Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Internasionale dag vir Ouer Persone is op Vrydag, 1 Oktober wêreldwyd gevier.
Die ACVV Mosselbaai het besluit om sommer ‘n hele week aan die inwoners op te dra by hulle fasiliteite en het vir elke dag iets vir die inwoners beplan.
Op 1 Oktober is 'n gedenkdiens gehou vir ‘n inwoner wat verlede week gesterf het en ook vir die inwoners wat hul reeds ontval het.
Maandag, 4 Oktober was dit fliekdag en Gé Korsten se Hoor my lied het die ogies vasgenael op die skerm gehou terwyl inwoners heerlik aan springmielies en aarbei-melkskommels gesmul het. Die dag is afgerond met lekker biefburgers en skyfies.
Dinsdag, 5 Oktober is die inwoners op ‘n uitstappie na Hartenbosstrand geneem. "Van die inwoners het tussen twee en vyf jaar laas die see gesien. Die opgewondenheid het hoog geloop en die dag was ‘n reuse sukses", vertel Chantel van der Westhuizen aan die Mossel Bay Advertiser.
Fotogalery: Strand-uitstappie vir Huis Loural bejaardes
Familie het uitgereik en gehelp om inwoners strand toe aan te ry en lede van die publiek het gehelp om die rolstoele te vervoer. Dit was ‘n behoorlike gelag en gespeel, soos inwoners in rolstoele wat met mekaar kompeteer het en tannies wat al langs die wandelpad gehuppel het. Heliumballonne met ‘n gebed vir ou mense is ook in die lug opgestuur.
Kyk 'n video hieronder:
Woensdag, 6 Oktober is die familie en die gemeenskap genooi vir koek en tee terwyl hulle bietjie met die inwoners gesels het.
Donderdag, 7 Oktober is 'n blikbekerprojek gehou. Blikbekers is met lekkernye gevul wat aan ACVV geskenk is en wat hulle aan die inwoners uitgedeel het. Die blikbeker gaan dan gebruik word om vir elke inwoner ‘n plantjie in te plant, wat hulle dan daagliks kan versorg.
Die week word op 8 Oktober afgesluit met ‘n pragtige jong meisie, Kaleigh van der Westhuizen wat vir die inwoners ‘n paar liedjies gaan sing.
"Ons wil graag dat die gemeenskap na ons uitreik en by ons ou mense betrokke raak. Hulle raak baie eensaam en is uitgehonger vir geselskap," sê Van der Westhuizen. "Hoewel ons personeel baie liefde en aandag aan ons inwoners gee, bly dit maar altyd lekker vir hulle om ‘n nuwe gesig te sien en geliefd te voel deur mense," sê sy.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'