MOSSELBAAI NUUS - "Ons het 'n voëltjie hoor fluit dat een van Mosselbaai se oudste en prettigste inwoners ook by vanjaar se Kansa Shades of Pink-borskankerstap gaan wees. Dié geleentheid vind op Woensdag, 11 Oktober plaas. Natuurlik gaan ons nie sê wie dit is nie. Kom stap gerus self en vind uit," sê Lucinda Viljoen, Kansa se gemeenskapsmobiliseerder: fondswerwing.
Vanjaar se borskankerstap begin om 18:00 om elkeen genoeg tyd te gee om na werk gou in hul tekkies te spring en te kom saamstap.
Die tema vir vanjaar se borskankerstap is Shades of Pink en stappers kan gerus hul verbeelding vrye teuels gee en die tema uitbeeld soos dit hulle pas. Almal is welkom – kinders, oues van dae, jonges - niemand word uitgesluit nie.
Registrasie vind reeds vanaf 17:00 plaas en diegene wat vooraf wil registreer, kan gerus vir Lucinda kontak (082 663 3529) of stuur e-pos na lucinda@cansa.org.za
Die sowat 5km-roete is maklik en toeganklik vir alle deelnemers. Die sirkelroete word twee keer om die Langeberg Mall gestap. Kostes beloop R40 per volwassene en R15 vir kinders onder 12 jaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'