MOSSELBAAI NUUS - Hoewel daar sprake is van 'n tegniese hoërskool op Mosselbaai, moet die Wes-Kaapse regering eers die grond by die Mosselbaai-munisipaliteit aankoop.
Munisipale woordvoerder, Nickey le Roux sê die departement het nog nie teenoor die munisipaliteit aangetoon wanneer hulle beplan om die skool te bou nie.
Woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Bronagh Hammond sê die oprig van die skool sal minstens vier jaar neem. Die departement het onlangs in 'n voorlegging in die provinsiale wetgewer aangedui dat daar 'n behoefte aan nog 'n hoërskool op Mosselbaai is, en glo veral 'n tegniese hoërskool.
Die grond waarop die skool gebou word is in Heiderand geleë.
Volgens Le Roux is daar verskeie erwe in die groter Mosselbaai vir die oprig van skole geoormerk.
Dit sluit in Heiderand, tussen Seder- en Apiesdoringstrate asook Erf 2510 in KwaNonqaba, agter Sewendelaan.
Hammond het bevestig dat die departement nog eers die eiendom moet bekom.
"Dit is dus nog 'n paar jaar voordat ons die finale produk sal sien, maar ons is opgewonde om tegniese opvoedingsgeleenthede na Mosselbaai te bring."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'