MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit sê hulle is dankbaar vir die inwoners wat die posbusprojek by die Punt ondersteun en só bydra om die omgewing en veral die wandelpad om die Punt vir almal skoner en verbruikersvriendelik te hou.
Sakkies waarmee honde-eienaars Wagter se gemorsie kan optel, word in die posbusse gestoor. Maar, ongelukkig is daar inwoners wat Wagter se verrassinkie weer in die posbusse terugsit, in plaas daarvan om dit in 'n asblik te gooi.
Die munisipaliteit versoek dat inwoners die sakkies gepas in die vullishouers plaas, en nie in die houers waaruit die sakkies voorsien word nie.
"Daar is verskeie vullishouers beskikbaar vir honde-eienaars se gerief. Alternatiewelik kan tuis met die sakkies weggedoen word.
"Die munisipaliteit doen ‘n beroep op inwoners om die houers waarin die sakkies geriefshalwe geplaas word, nie te vandaliseer nie," sê munisipale woordvoerder, Nickey le Roux.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'