MOSSELBAAI NUUS - 'n Graad 10-leerder is gewond tydens 'n voorval waarin hy glo Donderdag, 8 Maart met 'n ander leerder in sy klas slaags geraak het tydens 'n onderonsie oor 'n skoolsak.
Volgens die seun se ma, het die twee leerders toe die skoolklok lui om die pouse aan te kondig, stry gekry.
Sy sê volgens haar seun het hy die ander kind se sak toegerits waarna dit geskeur het. Die twee het handgemeen geraak en haar seun is deur die ander kind met 'n skerp voorwerp in die rug gesteek.
Sy kon nie bevestig of haar seun met 'n skêr of 'n mes bygekom is nie.
Die gewonde seun is na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem vir mediese behandeling en het steke ontvang.
Teen druktyd was dit nog nie bekend of 'n klag by die Da Gamaskop-polisie gelê is wat die voorval betref nie.
Beide die seuns woon in die Aslapark-omgewing en is leerders aan Hillcrest Sekondêre Skool.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'