Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Buitelug-entoesiaste en viertrekondersteuners kry van 1-3 November die geleentheid om die jongste tendense en produkte in die mark onder oë te kry by die eerste Tuinroete 4x4 Ekspofees wat op Bartelsfontein langs die N2 buite Mosselbaai gehou word. Dit beloof 'n fees met buitengewone pret vir die hele familie, veral vir die kleinspan, te wees.
Hierdie opwindende nuus is Dinsdagaand by die Mosselbaai Besigheidskamer se netwerkgeleentheid vir Oktober oorgedra.
Die netwerkgeleentheid is by Mosselbos op Groot-Brakrivierhoogte gehou. Kallie en Petra Sachse, die organiseerders het die gaste uitgenooi om betrokke te raak en hul produkte en dienste te kom ten toon stel. Uitstallers van oral in Suid-Afrika sal daar te sien wees.
Die Mosselbaai Besigheidskamer se lede asook gaste het die netwerkgeleentheid, wat deur die Mosselbaai Gastehuisgilde gereël is, bygewoon. Volgens die voorsitter, Paul Kruger, is dit verblydend om te sien dat die Mosselbaaiers in hul motors geklim en die geleentheid bygewoon het. "Gewoonlik moet die Groot-Brakkers die rywerk doen," het hy bygevoeg.
Mosselbos het asemrowende uitsigte oor die see en berge en Ursula van den Berg, die gastehuisbestuurder het die gaste ingelig oor die fasiliteite. Sy het almal genooi om op hul eie tyd te kom kuier en die geriewe te besigtig. 'n Nuwe lid wat die geleentheid gekry het om sy besigheid bekend te stel, was Riaan van der Merwe van Henven Verkoeling. Die ander nuwe lid Johan Swanepoel van PSG kon ongelukkig nie die netwerkgeleentheid bywoon nie. 'n Groot aantal pryse wat deur Joy Cook van die gilde en haar span bymekaargemaak is, is uitgedeel.
Die Mosselbaai Besigheidskamer se netwerkgeleentheid het Dinsdagaand by Mosselbos-gastehuis in Groot-Brakrivier plaasgevind. In gesellige luim is (van links na regs): Kallie Sachse (Tuinroete 4x4 Ekspofees), Joy Cook (Mosselbaai Gastehuisgilde) Louise Nel (Ruiterbosch Lodge), Ursula van den Berg (bestuurder, Mosselbos-gastehuis) en Petra Sachse (gasspreker Tuinroete 4x4 Ekspofees).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'