MOSSELBAAI NUUS - Van Konings, 'n rockgroep van Mosselbaai het pas 'n nuwe musiekvideo vrygestel.
"Toekoms, handel oor 'n ou wat sy nooi die groot vraag wil vra," verduidelik Leon van Rensburg, sanger van die groep. "Dis 'n regte tranetrekker," lag hy.
Wat die video besonders maak, aldus Van Rensburg, is dat van die tonele geskiet is in die Bradach Manor-gastehuis in Knysna, wat tydens die vernietigende brande in dié kusdorp verlede jaar in Junie, in puin gelê is.
"Ons was net betyds, want die eienaar het ons toestemming gegee om te verfilm toe die stootskrapers al gereed gestaan het om die bouval wat oorgebly het na die brand, te sloop." Die gastehuis, voorheen as vierster akkommodasie gegradeer, word tans herbou.
Die video is verfilm en geredigeer deur Wessel van Heerden, 'n joernalis van die George Herald.
Bradach Manor-gastehuis in Knysna
Die video is in die tuin van die pragtige Bradach Manor, wat verlede jaar tydens die brande in Knysna vernietig is, geskiet. Die gastehuis word tans herbou.
Om die musiekvideo te sien, besoek Van Konings se blad op facebook.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'