MOSSELBAAI NUUS - Sakelui het in getalle byeengekom tydens wat waarskynlik die Mosselbaai-besigheidskamer se grootste byeenkoms vanjaar was, toe veteraan-joernalis Freek Robinson vandeesweek die gas by dié organisasie se netwerkgeleentheid was.
Nagenoeg 200 gaste het die geleentheid by die Diaz Strand Hotel bygewoon waar Robinson oor sy outobiografie getiteld, Op die man af gesels het.
Prokureur van Rauch Gertenbach, Danie Acker was die aanbieder en het in 'n informele trant met Robinson oor sy kleurvolle loopbaan gesels.
Gaste het behoorlik aan Robinson se lippe gehang tydens vertellings van sy ietwat uitdagende kinderjare waartydens finansiële druk soms aan die orde van die dag was.
Robinson het ook die interessante agtergrond gedeel oor sy eerste blootstelling aan die politiek, toe hy as 'n skoolseun onder die invloed van die hoogs konserwatiewe Jaap Marias van die Herstigte Nasionale Party beland het.
Hy het uitgebrei, dikwels tot vermaak van die gehoor, oor sy grootwordjare en selfontdekking wat die skoner geslag betref.
Robinson se vertellings oor sy betrokkenheid in die vroeë jare van televisie-uitsendings in Suid-Afrika, was 'n blik op 'n vervloë tyd waarin nuusjoernalistiek 'n baie tydsame proses was teenoor vandag. Hy was egter bevoorreg om die revolusie wat media-industrie beleef het, te ervaar.
Tydens die gesprek het Robinson uitgebrei oor hoe hy moreel en emosioneel "afskeid" van apartheid geneem het en hoe dit sy sogenaamde meer liberale jare ingelui het. Vir meer as 'n uur het Robinson onderhoudend en boeiend oor sy boek gesels, hoewel hy aanvanklik beken het dat die skryfproses, waartydens sy uitgewer van hom 'n bepaalde vlak van ontboeseming verwag het, vir hom ongemaklik was.
Interaksie met Nelson Mandela
Robinson se vertellings van sy interaksie met Nelson Mandela, as mens en sy ontdekking van waaroor die politieke verset van die ANC eintlik gegaan het, was besonder aanraaklik. Robinson se pa, wat byna as middeljarige eers as 'n mediese dokter gekwalifiseer het, was Matthew Goniwe, 'n lid van die Cradock Vier se geneesheer.
Die gehoor was eweneens verbaas om te hoor dat Robinson twee liedjies geskryf het wat deur die sangeres Laurika Rauch opgeneem is.
Robinson se besoek aan Mosselbaai is deel van verskeie afsprake in die Suid-Kaap, wat onder meer 'n gesprek op George insluit.
Toe 'n vraag aan hom gestel is aangaande die krag van sosiale media as 'n nuusplatform teenoor tradisionele joernalistiek, was Robinson van mening dat, hoewel die finale woord hieroor lank nie gesê is nie, laasgenoemde onder 'n bepaalde kode leef en daardeur gebind word.
Dit is, aldus Robinson, 'n definitiewe voordeel in die guns van tradisionele joernalistiek.
Veteraan-joernalis, Freek Robinson in gesprek met Curro Mosselbaai se uitvoerende hoof, Brian O'Neil (links) en hoof van die junior fase, Sean Kristal. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'