MOSSELBAAI NUUS - Renette Vosloo, Kokkedoor en jare reeds bekend as die Rooitamatievrou gaan feesgangers verras tydens Mosselbaai se eerste Soulfest wanneer sy op 14 Julie saam met die legendariese Ina Paarman kos gaan praat, maak en demonstreer.
Hoewel sy in 2014 as een van die Top 4 van "Kokkedoor" op KykNet kykers se harte gesteel het, is Renette ook lief vir skryf en dig en Afrikaanse musiek lê haar na aan die hart.
Die gebore Vrystater het haar grootwordjare op die Transvaalse hoëveld deurgebring waar sy as kaalvoetkind in die veld gespeel het, haar eie restaurant begin het en haar man, Emile (Mielie) Vosloo in graad 11 by Hoërskool Middelburg ontmoet het. Hulle is in 1985 getroud en het in Middelburg gevestig en ‘n sleutelmakery bedryf.
Kookgogga
Die kookgogga het vir Renette gebyt toe sy maar 11-jaar oud was. Sy kon haarself verloor in die mooiste kookboek van haar ma, ‘Kook met Vertroue’ en op 'n dag besluit sy gaan vir haar ma ‘n verjaarsdagete kook. Daarna was daar geen keer aan haar onthaal-lus nie.
Renette het in Staatswetenskappe gestudeer, tog was dit 'n groot lekkerte om eerder kookboeke met haar boekrekening te koop, te lees en vir 'n vale te kook.
Hul eerste restaurant was in 1990 by Middelburg se Buiteklub, waarna sy en haar sussie ‘n kabaret-restaurantjie ‘Whiskers’ gehad het en gasvroue was vir almal van Cutt Glass, Nataniël, tot Elzabé Zietsman en ander vermaaklikheidskunstenaars.
Alom bekend as 'Rooitamatie', is Renette Vosloo se kosstories op 14 Julie een van die hoogtepunte waarna tydens die Soulfest uitgesien kan word.
Huisrestaurante
Reeds in 1993 het Renette met ‘pop-ups’ of huisrestaurante begin, ‘n ete gekook en kunstenaars soos Johannes Kerkorrel en Casper de Vries ingevoer om haar gaste te vermaak. Later het sy en ‘n vriendin haar huis tot die bure se ontsteltenis van tyd tot tyd in ‘n restaurant omskep en het die dorpenaars kom aansit.
Renette en Mielies het drie kinders, Gerhard, Maia en Emily. In 2016 het sy ouma van 'n pragtige identiese tweelingdogtertjies, Fleur en Louisa geword.
Deesdae bedryf sy en Mielie as eienaars van die Rooitamatie Gastehuis ook die ‘Red Tomato Supper Club’, wat 'n geleentheisdrestaurantkonsep is.
Eie kookboek
In 2017 het Renette haar lewensverhaal in die vorm van 'n narratiewe kookboek self uitgegee. Die Rooitamatie storie: Van Huiskos tot Prentjiekos, beskryf Renette as 'n 'chronologiese optekening van haar lewe met kos'. Van 'n dogtertjie wat op 'n mat lê en boeke deurkyk en besluit om 'n eend gaar te maak, tot studentekos, later restaurateur, ma en uiteindelik TV- kospersoonlikheid.
Maar, sê Renette, wat sy eintlik met mense wil deel is haar wil om bo uit te kom.
"Al val die son.
Hy kom weer op.
Jou storie word 'n heerlike bredie, gegeur met die speserye van die lewe, die kruie van drome en natuurlik, 'n klomp plomp tamaties."
Renette is sedert 2015 die aanbieder van Maak 'n Hap, die kos- en- wyn insetsel op kykNet se gewilde oggendjoernaalprogram, Ontbytsake.
Sedert 11 Januarie is sy te siene in haar eie kookprogram, "Rooitamatie" op Via, kanaal 147 op DsTv. Dié program is in 13 episodes verdeel met drie resepte in elke episode.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'