MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Kunstevereniging se konserte is weer terug in die Dias Museum, saam met die Charl du Plessis Trio.
Die volgende konsert vind op Woensdag, 8 November, om 19:00 plaas.
Japie Gouws, voorsitter van die Mosselbaai Kunstevereniging, sê hulle is verheug om weer die konserte in die Dias Museum te hervat nadat die museum die afgelope jaar onder konstruksie was om veiligheidsaspekte op te gradeer.
En wat beter as om die Charl du Plessis Trio aan te bied met hulle konsert, 50 ways to leave your lover.
Die Charl du Plessis Trio is een van die mees erkende instrumentale ensembles in Suid-Afrika.
Vier SAMA toekennings
Hulle het reeds nege albums die lig laat sien, vier SAMA-toekennings verower en tree gereeld in Europa en Oos-Asië op.
Hulle styl kombineer klassieke musiek met invloede van jazz, pop en ander eklektiese style.
In hulle nuutste program speel hulle musiek van Bach, Grieg se Peer Gynt Suite en nuwe verwerkings van Abba en Paul Simon.
Die trio bestaan uit Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme).
Kaartjies kos R160 vir lede van die kunstevereniging en R190 vir nie-lede. Voorafbesprekings kan gedoen word per WhatsApp of telefonies (064 963 9962). Dit kan ook gedoen word by Frame of Mind se winkel in die Ocean View Mall op die hoek van Bland- en Crookstrate op Mosselbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’