MOSSELBAAI NUUS - Inwoners op Mosselbaai is bekommerd oor stropery wat op die St Blaize-staproete plaasvind.
'n Inwoner, Lennis van Schalkwyk sê hy stap minstens vyf dae per week die roete met sy honde.
Van Schalkwyk sê hy het reeds 'n geruime tyd gelede verwoesting aan die plantegroei, en veral bolplante gesien.
"Ek het eers gedink dit is dalk 'n ystervark, maar onlangs het ek op mense afgekom wat die plante stroop en in groot streepsakke verskuil."
Natuurkenner, Fred Orban sê die stropery vind tussen Danabaai en Pinnacle Point plaas.
"Dit is merkbaar dat baie plante langs die roete uitgehaal word. Dit sluit veral tradisionele en waardevolle inheemse plante soos bolplante, wat vir medisinale doeleindes gebruik word, in."
Volgens Orban word die plante dan langs sypaadjies aan inwoners verkoop.
Die Mossel Bay Advertiser het 'n navraag aan CapeNature gerig en wag op hul terugvoering.
'n Inwoner van Mosselbaai het hierdie foto geneem van skade wat aan die plantegroei gerig word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'