MOSSELBAAI NUUS - AfriForum se gemeenskapsveiligheid-strukture wat insluit buurt-, plot- en plaaswagte hou vier keer per jaar 'n gelyktydige landswye patrolliegeleentheid in samewerking met ander rolspelers ten einde verhoogde sigbaarheidsoptredes te bewerkstellig.
Hierdeur word verantwoordelikheid geneem vir veiligheid in onderskeie gebiede landswyd.
AfriForum Mosselbaai se twee plaaswagte, naamlik Groter Brandwag en Herbertsdale het vanaf 17-18 Mei deurnag aan die tweede landswye patrolliegeleentheid deelgeneem.
Die Groter Brandwag-plaaswag het hom hoofsaaklik op voertuigbeheerpunte (VBP) op verskillende tye en plekke in die landelike gebiede toegespits. Hulle is ondersteun deur die Da Gamaskop-polisie, Wes-Kaapse provinsiale verkeer en U-Nic, 'n plaaslike sekuriteitsmaatskappy. Verdere ondersteuning by een van hierdie voertuigbeheerpunte is vanaf Groot-Brakrivier se polisie, gemeenskapspolisiëringsforum en die Midbrak-buurtwag verkry. Raadslede vir Wyke 4 en 5 Annatjie Janse van Rensburg en Anton Dellemijn het tydens die optrede hul solidariteit kom toon.
By een van die voertuigbeheerpunte op die R328, het Murray van der Merwe, voorsitter van die Groter Brandwag-plaaswag, 12 opvoubare glimkegels vanaf AfriForum Mosselbaai-tak vir gebruik tydens dié inisiatief en ander veiligheidsoperasies ontvang. Die laaste ses van die 12 koeëlvaste baadjies vir gebruik deur die Groter Brandwag-plaaswag se protospan is ook tydens hierdie geleentheid aan hulle oorhandig.
Verlede Saterdag het die protospan in samewerking met die SAPD en Tiger Kai 'n geslaagde plaasontsettingsoefening gehad.
Herbertdale-plaaswag het hulle hoofsaaklik op intensiewe patrollering in die Herbertsdale landelike area toegespits en 'n totaal van 335km afgelê.
In die proses is 'n verdagte voertuig van die pad afgetrek, die SAPD is ingeroep wat 'n bekende persoon in die dwelmhandel met 'n groot hoeveelheid geld in sy besit, gearresteer het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'