MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie in samewerking met plaaswagstrukture in Brandwag en Ruiterbos, asook ander plaaslike owerhede het op Vrydag, 8 Maart 'n gesamentlike aksie geloods om bewusmaking van plaasveiligheid in die hand te werk.
Tydens die aksie is 65 voertuie voorgekeer en nagegaan. Verskeie dagvaardigings is uitgereik in die proses.
Die koördineerder, ao Pierre Botha van die Da Gamaskop-polisie, verantwoordelik vir die landelike sektor, het 'n beroep op landbouers gedoen om hulle veiligheid op plase op te skerp.
Hy het die belangrikheid van 'n veiligheidsplan benadruk, ook dat landbouers moet seker maak dat hulle werknemers moet weet wat hulle aandeel en verantwoordelikheid in terme van so 'n plan is.
In Februarie het AfriForum se groter Brandwag-plaaswag ook 'n hoësigbaarheidsaksie saam met die Da Gamaskop-polisiestasie gehou. Altesaam 38 plaaswaglede het in 20 voertuie gesamentlik meer as 1 000 kilometer afgelê.
"Ons wil graag die Da Gamaskop SAPD bedank vir hul goeie voorbereiding en toegewydheid gedurende dié aksie. Verder wil ons dankie sê aan elke plaaswaglid wat hul tyd beskikbaar gestel het om ons gebied te help beveilig," sê Murray van der Merwe, voorsitter van AfriForum se groter Brandwag-plaaswag.
'n Gesamentlike aksie is op Vrydag, 8 Maart geloods onder die vaandel van die Da Gamaskop-polisie om plaasveiligheid op te skerp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'