MOSSELBAAI NUUS - Patrick Saayman sê met trots dat sy opvoedkundige agterstand, hom nie gekniehalter het om sy merk in die lewe te maak nie.
"Ek is standerd 2 uit die skool uit, maar vandag praat ek tot in die parlement," sê hy.
Patrick, veral bekend as bekroonde sportman en vir sy werk onder persone met gestremdhede, bedryf jarelank reeds 'n suksesvolle onderneming waar hy nou ook ander oplei om hulleself ekonomies te bemagtig.
Sy Mosselbaai Gemeenskapsgebaseerde Gestremde Akademie, 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, is in Maart vanjaar amptelik gestig. Hy kry ondersteuning van SEDA en bied tans 'n opleidingsgeleentheid vir persone met gestremdheid.
Patrick bedryf sy werkswinkel waar hy onder meer herstelwerk aan skoene doen vanaf sy huis in Adriaanslaan, Asla Park. Jy kan kwalik sy oranje geverfde huis miskyk.
"Ek is nog steeds hier. Die huis is nou net oranje geverf," lag Patrick Saayman (regs). Saam met hom is sy vakleerling, Sakhele Sigenu en Patrick se vrou, Linda.
"Die mense raak deurmekaar. Hulle soek nog die groen huis. Ek is nog steeds hier by dieselfde adres, die huis is nou net oranje," beduie hy. Twee persone met gestremdheid, wat voorheen deel was van sy sportgroep, word tans deur hom opgelei.
Opleiding geskied by sy werkswinkel tuis, maar, verduidelik Patrick die spasie is te knap vir uitbreiding.
"Volgens my konstitusie, kan ek drie persone oplei, maar die plek makeer. Onthou die mense is in rolstoele." Hy hoop dat hy na 'n groter perseel sal kan skuif, sodat hy meer persone met gestremdheid sal kan bemagtig.
Sakhele Sigenu werk tans onder Patrick. Sakhele het in 2015 in 'n rolstoel beland nadat hy die slagoffer van 'n skietery was. 'n Dwaalkoeël het hom in die rug getref.
Hy het voorheen as sekuriteitswag gewerk, maar is opgewonde oor die nuwe geleentheid. Tans leer hy om skoene te herstel, 'n vaardigheid wat deesdae as skaars bestempel word.
Patrick meen dat die opleiding ongeveer drie maande sal duur.
"SEDA skenk vir ons toerusting, maar salarisse word nie gedek nie. My visie is om my vakleerlinge met handvaardighede op te lei. As jy daardie kennis het, kan jy baie daarmee doen."
Patrick het 'n parapleeg geword as gevolg van 'n ongeluk op 'n bouperseel.
"Ek het in 1994 by eerste Bybel-oortreksel uit leer in die Conradie-hospitaal in die Kaap gemaak en kyk waar staan ek nou."
Sakhele glimlag ook oor sy eie vooruitsigte.
"You will see me do my thing there in Elangeni. That's where I stay."
Patrick Saayman het die Mosselbaai Gemeenskapsgebaseerde Gestremde Akademie gevestig. Fotos: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'