MOSSELBAAI NUUS - Geleenthede vir bedrog is legio, tog word niksvermoedende, goedhartige mense steeds ingeloop. Onlangs het insittendes van 'n Mosselbaai-geregistreerde Nissan Micra met 'n wolhaarstorie mense in Wildernis oorreed om hulle met kontant te help omdat hul motor kwansuis sonder brandstof sou wees.
Dieselfde motor, dieselfde insittendes met dieselfde wolhaarstorie het hul rieme egter in George 'n wyle later styfgeloop toe hulle toevallig dieselfde barmhartige Samaritane, wat tydens die eerste voorval wel kontant bewillig het, weer geteiken het.
Mosselbaaiers het aanvanklik in Wildernis die Mosselbaai-geregistreerde voertuig met insittendes raakgeloop. Daar is beweer die voertuig was sonder brandstof en daar is 'n bydrae vir brandstof gevra. Boonop is meer as wat gevra is, bewillig. spul, bekend as die Kumar-slenter.
In 2016 het die sogenaamde Kumars tientalle Kapenaars bedrieg deur voor te gee dat hul voertuig sonder brandstof was en dat hulle 'n paar rand benodig om verder te kan reis. Talle berigte in die media het gemaan teen die sogenaamde Kumars wat veral in die groter Kaapstad bedrywig was en selfs aggressief teenoor hulpverleners gereageer het.
"Hopelik kan ander inwoners kennis neem van hierdie voorval waartydens mense voorgegee het dat hulle hulp nodig sou hê net om mense gewetenloos te bedrieg. Toe ons hulle in George met die slenter konfronteer, was die betrokkenes onbeskof. Hulle teiken vroue en ouer mense. Hierdie optrede vernietig 'n mens se naasteliefde. Volgende keer as iemand regtig in die nood is, mag 'n mens dalk dink dis weer maar net 'n slenter."
Selfoonlugtyd
Gedurende die Desembervakansie was die persoon of persone wat mense met 'n slenter uitvang deur vir selfoonlugtyd te vra, ook weer doenig.
Die persoon gee voor om 'n wettige afspraak met niksvermoedende slagoffers te hê. Hy of sy vra dan die slagoffer om selfoonlugtyd te koop en vir hom of haar na die afspraak saam te bring.
Onderweg na die afspraak skakel die bedrieër dan die slagoffer en vra dat die selfoonlugtyd se kodes solank vir hom of haar gegeee moet word. Uiteindelik vind die niksvermoedende slagoffer uit dat die adres nie bestaan nie.
Hierna word die kontaknommer net nie weer beantwoord nie. Só is tientalle Suid-Kapenaars al ingeloop.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'