Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - 'n Spesiale toga-oorhandiging is tydens die eerste raadsvergadering van die Mosselbaai-munisipaliteit vanjaar, op Donderdag 23 Februarie gehou.
Oudburgemeester, Marie Ferreira, en oudonderburgemeester, Eleonor Domingo het die inisiatief geneem om nuwe togas vir die burgemeester, die onderburgemeester en die speaker te laat maak.
Daar is in Maart verlede jaar besluit op 'n amptelike kleredrag-beleid vir raadslede. Die vorige burgemeesterstoga was amper 50 jaar in diens en was al taamlik verbleik.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, verduidelik: "Met die nuwe gedragskode, probeer ons raadslede om statig te wees en 'n voorbeeld te stel in terme van hoe ons lyk en mekaar met respek hanteer in die raadsaal soos leiers doen."
Marie Ferreira, oudburgemeester sedert 2006 tot 2016, vertel dat dit heerlik was om weer in die raadsaal te wees. "Ek kom nie baie hier nie want ek wil nie hê hulle moet dink ek watch oor hulle nie. Ek was sedert 1994 deel van die raad vir 28 jaar en wat 'n voorreg was dit nie! En daarna die burgemeester vir 10 jaar."
Sy sê hulle het wonderlike tye beleef, al was dit partykeer bietjie hectic. "Dit is heerlik om dop te hou en te sien dat ons huidige raad steeds die standaarde hoog hou en dat hulle met trots ons pragtige dorp lei. Ons dorp is aan die ontplof en dit raak al hoe moeiliker vir plaaslike bestuur, maar mag die Vader vir hulle lei en hulle seën. Ek wens vir hulle net die mooiste dinge toe."
'n Voormalige onderburgemeester en uitvoerende komiteelid, Eleanor Domingo, vertel dat dit lekker was om weer ou bekendes raak te loop. "Ek het ingesit tydens die onderhoud met die huidige munisipale bestuurder, Colin Puren, toe hy aangestel is as direkteur van gemeenskapsdienste. Ook lekker om Venolea (Fortuin) en vir Joey Bavuma te sien wat by Hillcrest op skool was. My man was die eerste skoolhoof by Hillcrest. Daar is ook baie van my oudleerlinge wat nou by die munisipaliteit werk. Dis vir my 'n veer in die hoed."
Op 'n vraag of sy reken hulle doen goeie werk, sê sy: "Ja, dis hoekom Mosselbaai nommer een is in die land!"
VIDEO - Marie Ferreira, oud-burgemeester van die Mosselbaai Munisipaliteit gesels oor haar besoek:
VIDEO - Raadsheer Dirk Kotzé vertel meer oor die nuwe togas wat aan hulle oorhandig is:
VIDEO - Eleanor Domingo, 'n voormalige onderburgemeester by die Mosselbaai Munisipaliteit:
Raadsheer Dirk Kotzé, speaker Venolea Fortuin en raadsheer Cliffie Bayman met hul nuwe togas in die Mosselbaai-munisipaliteit se raadsaal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'