MOSSELBAAI NUUS - Die Gaan Groen/ GO GREEN-projek van die Mosselbaai-munisipaliteit bedryf onder meer 'n herwinbare-ruilwinkelprojek waar inwoners herwinbare afvalprodukte, soos glas, karton, papier en plastiek kan ruil vir huishoudelike produkte soos toiletware, sanitêre produkte en voedsel.
Daar is twee ruilwinkels in die Mosselbaai-omgewing, een is in Maqabanga Straat in KwaNonqaba by die Barcelona Beehives geleë en die ander word bedryf in Groot-Brakrivier op die terrein van Laerskool Groot-Brakrivier.
Hierdie ruilwinkels funksioneer op ‘n puntestelsel en word beman deur vrywilligers van die organisasie Piet Julies Vigs-aksiegroep en Laerskool Groot-Brakrivier.
Die Barcelona-ruilwinkel (KwaNonqaba) is oop op Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 13:00-15:00.
Die Groot-Brakrivier-ruilwinkel is daagliks oop na skool-ure, aangesien die ruilwinkel deur een van die onderwysers beman word.
Hoewel die ruilwinkels in die twee areas geleë is, is dit oop vir die groter Mosselbaai-gemeenskap.
Die ruilwinkels is heeltemal afhanklik van skenkings en daarom word daar ‘n beroep op besighede, skole, kerke en die gemeenskap van Mosselbaai gedoen om items te skenk om die volhoubaarheid daarvan te verseker.
Enige skenkings soos toiletware, sanitêre produkte, skoonmaakmiddels en voedsel produkte sal verwelkom word. Skenkings kan afgegee word by die Munisipale kantore op Hartenbos, Witwatersrandweg.
Vir meer inligting kan u die Mosselbaai-munisipaliteit se kantoor verantwoordelik vir MIV/Vigs, geslag, gestremd en bejaard kontak by 044 606 5251 of ‘n epos stuur na akritzinger@mosselbay.gov.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'