MOSSELBAAI NUUS - Die nood onder gemeenskappe wanneer dit kom by die mees basiese behoeftes, is 'n wrang realiteit.
In Ankerstraat, D'Almeida kom 'n groep behoeftige mense, baie van hulle sieklik, daagliks byeen vir 'n enkele maaltyd wat hulle moet deursien tot die volgende dag.
Diegene wat hier voedsel ontvang, word daarheen verwys deur die D'Almeida-kliniek. Die kos word voorsien deur deur die Piet Julies MIV/VIGS-aksiegroep.
"Dit ruk mens aan die hart as jy hierdie mense sien en weet dat baie van hulle daardie kleine porsie kos huis toe neem om ook ander te voed.
"Die mense wat hier kos kry, is reeds verwys vanweë wanvoeding," sê Naulene Cupido, pastoor van die South African Gospel Mission waar die hulpbehoewendes byeenkom.
Die geregistreerde gemeente, wat reeds 20 jaar bestaan, is geïdentifiseer as 'n afsetpunt vir maaltye.
Maar volgens Naulene, strek hulle betrokkenheid veel verder. Hulle Sondagbyeenkomste is volgepak en hier word mense bedien en ook geestelik versterk.
"Ons sien onsself eintlik meer as 'n sorgsentrum. Sondae kom ons eintlik net byeen om dankie te sê vir die Here vir die dinge wat gedurende die week gebeur het." Naulene is 'n verpleegkundige en werk as 'n koördineerder vir tuisversorging as deel van die Piet Julies-groep se span.
Sy sê omdat sy so oorbewus van die behoefte is, moet die voedselvoorsiening binne die D'Almeida-gemeenskap aangevul word. 'n Borgskap is verkry vir blikkiesvis, maar brood soek sy nog.
"Ons wil graag 'n sopkombuis begin en dit volhoubaar maak."
Tersia Christie wat die opskepwerk doen beaam dit.
"Dis verskriklik swaar as die skool uitkom en die kindertjies kom vra kos, wat moet ek dan sê? 'Nee, gaan maar want jy is nie vandag op my lys nie?' Ek kan dit nie oor my hart kry nie."
Bo en behalwe die nood onder die mense, het die kerkgeboutjie duidelik opknapping nodig.
"Ons kan nog meer hier doen. 'n Plek bied vir ondersteuningsgroepe, waar gekwalifiseerde verpleegsters advies oor gesondheid kan gee.
"Daar is baie mense in hierdie woongebied wat diabete is en advies benodig oor hoe om hulle medikasie te gebruik."
Naulene se groot droom is om 'n addisionele plek te skep waar mense kan heel word.
"Ek het aansoek gedoen by die munisipaliteit vir grond vir 'n halfway house waar vervalle mense kan herstel.
"Waar hulle gerehabiliteer kan word om weer selfonderhoudend te kan leef. Dink net as mense opgehelp kan word, watter verskil dit nie sal maak nie?"
Enige persoon wat wil betrokke raak, kan Naulene Cupido (074 106 3620) of Gert Christie (060 707 0848) kontak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'