Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die operasionele personeel van die Mosselbaai Sentrale Verbeteringsdistrik, oftewel CID staan nou behoorlik uit op straat in hulle splinternuwe lemmetjiegroen hemde, wit hoedjies en khakibroeke.
Van die manne stap al meer as agt jaar, byna so lank as wat die CID bestaan, die strate van die sakekern plat om uitvoering te gee aan die CID se mandaat om die middedorp en onmiddellike omgewing 'n meer gewenste gebied te maak.
Jacques Duitsjan sê met trots dat hy al agt jaar, een maand en 20 dae deel van die CID is.
"Ek werk lekker met my kollegas saam. Ons het baie grappe, maar ons neem ons werk baie ernstig op. Van die mense met wie ons werk, raak aggressief en dreig ons soms met messe. Ons help en ondersteun mekaar."
Henzel du Preez sê hy kry groot bevrediging uit die verskeidenheid mense wat hy in die agt jaar wat hy die strate patrolleer leer ken het. "Daar was 'n rede hoekom die CID gestig moes word. Ek glo dit maak 'n groot verskil in die dorp." Van die grootste uitdagings in hulle werk meen hy, is om geduld en selfbeheersing toe te pas wanneer hulle met gure karakters te doene kry.
Jerry Mabandla wat ook al agt jaar stap, sê hy geniet dit wanneer hy met haweloses praat en hulle dan hul samewerking gee. "Party is maar baie hardkoppig. Wat ook lekker is om te hoor, is wanneer mense vir ons sê dat as dit nie vir ons was nie, die dorp nie sou gelyk het soos dit nou lyk nie."
Kyk 'n video hieronder:
Veldtog
Sedert Januarie 2021, is 'n aktiewe veldtog van stapel gestuur om die voetspoor van die huidige CID te vergroot. Die CID kan slegs vergroot word indien 51% van diegene wat eiendom in die voorgestelde gebied besit, ten gunste daarvan stem.
Gerugte doen tans die ronde dat insluiting in die voorgestelde vergrote CID-area tot 'n noemenswaardige toename in munisipale rekeninge tot gevolg sal hê.
By navraag het die nuwe bestuurder van die CID, Werner Schwella bevestig dat daar 'n bepaalde formule bestaan vir die berekening van die CID-heffing.
Die heffing vir residensiële eiendom is 0.000545 per 1 000 000 van die munisipale waardasie en vir kommersiële eiendom is 0.001090 per 1 000 000. Die eiendomswaardasie verskyn op die munisipale rekening.
Hieronder 'n paar berekeningsvoorbeelde vir die maandelikse heffing op residensiële eiendom.
- 1 000 000 x .000545 ÷ 12 = R45.42
- 1 500 000 x .000545 ÷ 12 = R68.13
- 2 000 000 x .000545 ÷ 12 = R90.83
- 2 500 000 x .000545 ÷ 12 = R113.54
- 3 000 000 x .000545 ÷ 12 = R136.25
Die CID hou op 30 Maart 'n dagkonferensie met prof Erwin Schwella wat by die Dias Museum aangebied word en waar die toekomsmoontlikhede van Mosselbaai bespreek gaan word.
Beperkte plek is beskikbaar.
Enige navrae oor die CID kan gerig word aan Werner Schwella CID (083 591 6691 of stuur e-pos na werner@schwella.co.za).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'