Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die Draadkar-Fees, wat by die Hoogekraal primêre skool plaasgevind het die afgelope naweek, is deur die organiseerders beskryf as 'n groot sukses.
Een van die doelstellings was om die kinders en ouers van die gemeenskap bymekaar te bring om saam draadkarre te bou en ander kreatiewe aktiwiteite te beoefen.
FOTOGALERY: Draadkar-fees 'n groot sukses
Die draadkarre is opgeveil om geld in te samel vir dié skool met slegs sowat 40 leerders. Die waarnemende hoof van die skool, Meagan van der Merwe, sê hulle is baie dankbaar vir die hulp uit die gemeenskap om die skool op te hef en dat die projek aandag vestig op die skool en die leerders se behoeftes.
Die Tuinroete Distrik Brand- en Reddingsdienste het 'n uitreik gedoen en 'n baie insiggewende praatjie aangebied om die kinders en hul ouers meer van die gevare van vuur te leer. Veldbrande en die onbewuste rookinaseming in huise, het spesiale aandag geniet.
Volgens senior brandweerman Ben van Vuuren lê hulle klem op die doodsgevaar van konka-vure in 'n klein spasie waar daar nie ventilasie is nie. Die koolstofmonoksied wat so afgeskei word, is giftig en laat mense aan die slaap raak en sterf. Hulle leer die kinders ook wat noodnommers is en hoe om dit te gebruik. 'n Bande-firma van George het ou bande geskenk wat pragtig geverf en versier is vir die "Tyre scooters".
Die skool se graad 5- en 6-leerders sal op 'n geleë tyd ook bederf word met 'n bootreis om Robeiland by Mosselbaai en opvoedkundige besoeke aan die Gondwana wildplaas. Cape Feed and Grain het al die materiaal geskenk vir die bou van die draadkarre. Volgens 'n woordvoerder ondersteun hulle graag die projek omdat dit kinders in plaasgemeenskappe vaardighede leer en 'n kans bied om uit te styg bo hul omstandighede.
Dewald de Kock, voorsitter, van die Outeniqualand Plaaswag, sê dat vier plaasskole by die Draadkar-Fees inisiatief betrek word. Die volgende een word in Julie beplan waar die Friemersheim primêre skool betrek sal word.
VIDEO - Dewald de Kock en Johan Hewitt oor die sukses van die Hoogekraal Draadkar-fees.
VIDEO - Meagan van der Merwe, waarnemende prinsipaal Hoogekraal Primêr en Angela van Vuuren, Tiger Wheel.
VIDEO - Bennie van Vuuren, Tuinroete Distrik vertel oor die uitreike na die gemeenskappe en vuurbewustheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’