MOSSELBAAI NUUS - Binnekort kan Mosselbaaiers opnuut spog met 'n nuwe ode aan dié dorp, danksy die jongste projek van die plaaslike rockgroep, Van Konings.
Sanger en liedjieskrywer Leon van Rensburg het Die strate loop leeg in Mosselbaai geskryf as 'n verjaarsdaggeskenk aan sy pa Willie, gebore en getoë in Mosselbaai, wat die "Punt as sy agterplaas gehad het".
Hoewel die liedjie, met sy aansteeklik reggae-ritme al 'n rukkie gelede die lig gesien het, het Van Konings verlede naweek ewe gepas op Lentedag deur die dorp beweeg terwyl hulle die musiekvideo geskiet het.
Die groep het aangedoen in Tarka, Kastrolstraat, die Punt en ander landmerke wat in die lirieke voorkom tydens hulle swerftog deur die dorp. Daar is gedans in Tarka en uiteindelik "konsert" gehou by die Punt as deel van die verfilming.
"Ons het ook in Kastrolstraat gestop, by die locals van die straat," vertel Van Rensburg. Een van hierdie "locals", verduidelik hy, is Monica met die sagte hart wat maar altyd seker maak dat die mense van die straat versorg is. "Ek sing van Tannie Meraai, ook 'n karakter van Kastrolstraat met haar eie unieke storie." Dié tante se dogter, Martha Leonard was ook by vir die verfilming.
"Ons wil graag die liedjie as 'n geskenk aan Mosselbaaiers gee. Almal wat dit wil hê, stuur net jou naam na 076 239 7067. Dan stuur ons die liedjie vir jou. Dis gratis."
Die musiekvideo sal volgens beplanning oor twee weke voltooi en beskikbaar wees.
Hierdie musiekvideo is ook verfilm deur Wessel van Heerden, joernalis van die George Herald, die Mossel Bay Advertiser se susterskoerant. Van Heerden was tot dusver by al Van Konings se videoprojekte betrokke.
Rockgroep Van Konings se lede met die mense van Tarka tydens die verfilming van hulle jongste liedjie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'