MOSSELBAAI NUUS - Die Engelse gesegde lui desperate times call for desperate measures. Dit is dalk een perspektief op 'n nuwe manier van dinge doen, wat buite die erkende en selfs verouderde norm val.
'n Goeie voorbeeld hiervan, wat vroeëre konvensie uitdaag, is kerke wat nie noodwendig meer hulle koppe in die sand druk as dit by die teenwoordigheid van alkohol by kerkfunksies kom nie. Deesdae is dit nie ongewoon dat 'n wyn- of jenewerproe by kerke aangebied word nie. Bygesê, val hierdie nuwighede nie in almal se kraal nie.
Met die NG Moedergemeente se onlangse basaar, was daar eweneens 'n verfrissende ontdekking toe die Mossel Bay Advertiser 'n eensame bottel Boer & Brit-wyn by een van die stalletjies raakloop.
Hoewel die bottel bloot deel van die uitstalling was, was daar 'n interessante storie ágter die storie.
Dié outentieke handelsmerk het sy wortels diep in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) was President Paul Kruger en die Engelse generaal, John French geswore vyande.
Etlike dekades later in 2001 ontmoet dié twee stryders se nasate op Stellenbosch as studente in kuns van wynmaak. Stefan Gerber en Alexander Milner, onderskeidelik 'n nasaat van Kruger en French, smee vriendskapsbande en begrawe toe die strydbyl, want die oorlog is mos nou iets van die verlede.
Gou kry hulle die bynaam "Boer en Brit" wat die twee toe uiteindelik inspan as 'n vindingryke handelsmerk vir hulle eie wyn.
Maar blykbaar, te oordeel aan familietradisie, is naamgewing in die Kruger-bloedlyn 'n groot saak.
Paul Kruger was getroud met Gezina Susanna Fredrika Wilhelmina Kruger (née du Plessis). Hulle dogter was Anna Maria Eloff (née Kruger) en haar dogter is weer volledig Gezina Susaan Fredrika Wilhelmina du Plessis (née Eloff) gebore. Toe volg laasgenoemde se dogter, Anna Maria van Wyk (née du Plessis) en hare is op haar beurt vernoem Gezina Susanna Fredrika Louw (née Van Wyk). Stefan Gerber, die Boer in Boer & Brit-wyne, se moeder is toe volgende in die ry. Gedoop Anna Maria (née Louw) met haar noemnaam Anria,is sy en haar man, Attie tans lede van die NG Moedergemeente. Anria het 'n dogter genaamd Gina, gedoop Gezina Susanna Fredrika Wilhelmina (soos Paul Kruger se vrou). En Gina, het 'n tweelingseun en -dogter. Laasgenoemde, is volgens familietradisie gedoop Anna Maria, maar haar noemnaam is Amia.
En al mag dit 'n rukkie neem om agter die kap van die byl te kom, so duur 'n trotse tradisie in die gee van familiename voort.
Anria Gerber, haar dogter Gina en kleinkinders, Amia en Nicolas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'