TUINROETE VERMAAKNUUS - Dis nie aldag dat 'n klomp Mosselbaaiers 'n indruk in Mexiko maak nie. Maar dalk is dit hoog tyd dat rockgroep Van Konings die geskiedenis 'n bietjie herskryf.
Die groep het op 23 September, net voor Erfenisdag, hul jongste musiekvideo, Take me higher, bekend gestel. Dit het sedert vrystelling, in net meer as 10 dae, 250 000 trefslae gehad.
Leon van Rensburg, sanger en liedjieskrywer se lirieke fokus op positiwiteit. Dié lied het hy jare gelede nog voor hy getroud was geskryf.
In die musiekvideo, waarin plaaslike fiksheidsentoesiaste van Mosselbaai en George hulle spiere as Indiane en boksers bult, word 'n stryd tussen lig en donker uitgebeeld.
Hoekom hy juis die Indiane-tema gekies het, sê Van Rensburg, is hy nie seker nie. "Dis maar net hoe ek dit destyds geskryf het. Indiane leef naby aan die natuur en in die musiekvideo lees die chief sekere tekens wat hom bang maak. Hy sien daar kom 'n stryd en die lied gaan oor hoe dit oorwin kan word."
Vanweë die Indiaanse tema het 'n kyker in New York die video met kennisse gedeel en tans doen dit besonder goed in Mexiko. "Ek het gehoop vir so 50 000."
Wessel van Heerden, videograaf en joernalis van die George Herald wat die video vervaardig het, het saam met Van Rensburg die skiet van die video haarfyn beplan.
"Ons het die video net voor lockdown opgeneem en gelukkig al die videomateriaal gekry wat ons benodig het. Dit het bloedsweet gekos om dit te redigeer vanweë die spesiale effekte en groenskermwerk. Die tema daarvan is om altyd hoër te streef en nooit op te gee nie," vertel Van Heerden.
Die "bloedsweet" ten spyt, het die trefslae ook Van Heerden se stoutste verwagtinge oortref.
Bernard Beetge, wat die Indiaanse chief vertolk, was onbewus van die video se gewildheid toe die Mossel Bay Advertiser hom kontak. Beetge, 'n sakeman, sê dit was sy eerste keer voor die kamera. "'n Hele nuwe wêreld het vir my oopgegaan. Die hoeveelheid tyd wat in verfilming ingaan is verstommend."
Die musiekvideo is tydens 'n rooitapytgeleentheid bekend gestel. "Ek het Hollywood bietjie Mosselbaai toe gebring," skerts Van Rensburg.
Maar alle grappies op 'n stokkie. Met soveel trefslae beland Mosselbaai dalk nog by die Grammy-musiektoekennings.
'n Skermgreep uit die musiekvideo, Take me higher.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'