Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die leerders van Erika Primêre Skool het Woensdag blinkoog sit en luister na een van hulle skoolmaats toe sy behendig die saksofoon vat en onder kitaarbegeleiding, die bekende liedjie Jesus loves me, speel.
Jayda Remas, 'n graad 6-leerder was aanvanklik 'n bietjie senuweeagtig, maar het gou haar voete gevind en 'n groot applous was haar beloning.
Sy is een van 71 leerders aan die skool wat sedert die begin van 2018 aan 'n musiek- en drilakademie by die skool behoort. Die projek word gefasiliteer deur Josie Domingo van die Mosselbaai Gemeenskapsorkes.
"Ons wil hierdeur 'n gevalle gemeenskap 'n hupstoot gee. Soos Moses se arms op die berg in die Bybelse tyd omhoog gehou moes word, so wil ons die onderwysers en ouers se arms omhoog hou in hulle opvoedingstaak." Domingo het verlede jaar 'n soortgelyke projek by Diaz Primêre Skool begin, maar moes dit onderbreek vanwee logistieke uitdagings by die skool terwyl dit in aanbou is.
Die projek, aldus Domingo, word aangebied in samewerking met die SA Polisiediens en is van stapel gestuur met die goedkeuring en ondersteuning van die bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, brig Gerhard Jantjies.
Volgens Domingo is die projek daarop gerig om dissipline by kinders wat deel van die program is, in te skerp.
Erika Primêre Skool het ook met die aanvang van die tweede kwartaal, 'n nuwe skoolhoof, Denzil van Graan verwelkom.
"Ek is baie in my noppies met loods van 'n musiek- en drilakademie by Erika Primêr," het Van Graan aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
"Dit gee aan ons leerders 'n gulde geleentheid om uiting aan hul musiektalente en gawes te gee. Die program hou baie voordele vir ons leerders in en hul bywoning hier vandag is ‘n bewys van hul geesdriftigheid en belangstelling. Dit bied aan leerders wat nie versot is op sport, dans, kuns en akademie nie, ‘n kans om op musikale wyse te presteer."
Van Graan het voorts gesê dat hy dankbaar is teenoor mnr Domingo en die SAPD vir hul toewyding en ondersteuning van program.
"Ek vertrou en glo dat deur hierdie program leerders gestimuleer sal word en ‘n geestelike ingesteldheid sal ontwikkel om ‘n positiewe bydrae tot die Mosselbaai-gemeenskap te maak."
Kyk 'n video hieronder.
Josie Domingo van die Mosselbaai Gemeenskapsorkes saam met die bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisie, kol Mark Hartezenberg en die nuwe hoof van Erika Primêre Skool, Denzil van Graan waar 'n musiek- en drilakademie ontwikkel word ten einde leerders tot groter dissipline aan te spoor.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'