MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se waterbronne is volgens die Mosselbaai-munisipaliteit gesond en die amptelike impak van die mees onlangse reën wat op Maandag, 12 Desember geval het, sal teen Maandag, 19 Desember in terme van plaaslike damvlakke beskikbaar wees.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se waterbronne sluit in die Wolwedansdam, Klipheuweldam en die Ernst Robertson-dam wat in totaal as 'n waterverskaffingsnetwerk 18.4 miljoen m³ per jaar kan lewer.
Die munisipaliteit se geregistreerde waterverbruik is tans 12.4 miljoen m³ per jaar.
Munisipale woordvoerder, Cornelle Carstens sê tans is die Mosselbaai-munisipaliteit se totale jaarlikse waterverbruik, met die landelike gebiede ingesluit, 9.6 miljoen m³ per jaar. "Verder is die munisipaliteit se meesterplan vir waterinfrastruktuur, wat die bloudruk is vir toekomstige ontwikkeling, opgestel in lyn met die 2030 ruimtelike ontwikkelingsplan. Hierdie meesterplan word elke vyf jaar deeglik in oënskou geneem en aangepas om sodoende die kapasiteitsvereistes te bepaal."
Waterbronne
Carstens sê die Mosselbaai-munisipaliteit het ook toegang tot verdere waterbronne wat insluit die ontsoutingsaanleg (15 miljoen liter per dag); die waterherwinningsaanleg (5 miljoen liter per dag) asook boorgatinstallasies (1.4 miljoen liter per dag).
"Die lewering van water aan sekere dele van Mosselbaai het egter vanweë die voortslepende beurtkrag in die onlangse verlede, uitdagings gebied. Die hoërliggende dele van Heiderand asook Pinnacle Point het onlangs watervoorsieningsuitdagings asook laer waterdruk beleef, vanweë reservoirvlakke wat nie optimaal was nie. Dit is veroorsaak deur die kumulatiewe effek van lang fases van beurtkrag wat meegebring het dat die pompe wat hierdie reservoirs moet vul, nie lank genoeg aan kon wees om die optimale watervlak te voorsien nie."
Carstens sê 'n soortgelyk uitdaging is met watervoorsiening in Herberstdale ervaar.
"Die munisipaliteit bestuur egter tans die uitdagings suksesvol en oorweeg intussen alternatiewe kragbronne as deel van 'n gebeurlikheidsplan. Inwoners word wel versoek om water omsigtig te gebruik. Die munisipaliteit herinner inwoners aan die vrywillige waterbesparingsversoek van tenminste 15% van die normale verbruik.'
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'