Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die 300 vroue wat verlede Saterdag, 4 Augustus met hulle hande omhoog gejil het van plesier ná 'n besonderse vrouegeleentheid in die stadsaal, getuig vandeesweek daarvan dat hulle beslis weer 'n wip in hulle stap het.
Dié breinkind van Salome Nieman, voorheen 'n geleentheidsbeplanner wat tans haar eie onderneming in skoonheids- en huishoudelike produkte bedryf, was volgens haar juis daarop gerig om vroue net weer 'n slag hulle eiewaarde te laat besef. "Ek het bewus daarvan geword dat vroue plaaslik stukkend is en voel of hulle las te veel is. Baie voel of hulle hul waarde verloor het. Of hulle net nie meer die moeite werd is nie."
In 'n japtrap, nadat die idee by haar posgevat het, is die geleentheid gereël en het die kaartjies soos soetkoek verkoop, soveelso dat sy tot op die dag nog belangstellendes moes wegwys.
Gasvroue het uitgehang om hulle tafels in 'n vintage-styl op te maak en die gaste het boonop seker gemaak dat hulle uitrustings ook by die tema pas. Fotograaf tydens die geleentheid, Yolandi van Dyk van Poise Photography beskryf die geleentheid baie raak "dat alles waarvan 'n vrou hou op een plek bymekaargekom het" en ook dat sy ná die geleentheid, weer vroue wat met hangskouertjies ingestap het, se oë sien skitter het deur haar kamera se lens.
Eiewaarde
Die knoop het egter gelê by die keuse wat hulle met hul aankoms by die Mosselbaai-stadsaal moes maak. Die ingange was gemerk average en beautiful en dit was inderdaad interessant om te sien hoe vroue gehuiwer het voor hulle die besluit geneem het watter ingang om te gebruik. Videomateriaal hiervan is later gedurende die oggend deur gasspreker Linkey Jones gebruik tydens haar besielende praatjie oor eiewaarde.
Tafels was met groot moeite mooigemaak.
Jones het 'n vergelyking getref tussen selfvertroue en eiewaarde. Selfvertroue, het sy gekoppel aan die verganklike soos voorkoms, vaardighede en prestasies. Eiewaarde het sy verduidelik aan die hand van dit wat ewigheidswaarde het vir gelowige mense, dus wat God van mense sê. Jones bied kampe aan vir jong meisies wat verlies of erge trauma in hulle lewens ervaar het. Sy en haar man, Warren het die Rotariër-klub van Mosselbaai se burger van die jaar-toekenning ontvang vir hulle werk op hierdie gebied.
Jeugdige evangelis van Mosselbaai, Johandré Potgieter se boodskap was dat vroue 'n fundamentele rol speel om hulle gesinne geestelik gesond te hou.
Hy het gesê dat gelowige vroue wat bid, groot dinge kan vermag. Potgieter evangeliseer regoor Suid-Afrika en het ook 'n groot aanhang op sosiale media waar hy mense deur die Woord van God bereik.
Meer as net pitkos vir die siel, is die vroue ook met praktiese kennis toegerus. 'n Prettige wyn-pasproe is aangebied deur Jakkalsvlei-wyne wat die jongste neiging, die paring van verskillende geure spookasem met wyn, belig het. Instrukteurs van Tiger Kai het 'n demonstrasie gelewer van maklike selfverdedigingstegnieke wat vroue kan toepas om uit gevaarsituasies te kom. Vir die avontuurlike kokke, is daar 'n demonstrasie gelewer waartydens 'n span van Kingfisher-restaurant beduie het hoe daar sushi tuis gemaak kan word.
Plaaslike joernalis en rubriekskrywer, Cornelle Carstens was die programleier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'