MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai #virLanelle is 'n fondsinsamelingskonsert vir die geliefde Afrikaanse sanger, rubriekskrywer en ikoon, Valiant Swart se vrou.
Op Saterdag, 2 April gaan Mosselbaai saamstaan om ook deel te wees van die landwye aksie om vir Valiant by te staan met die mediese onkostes van sy vrou, Lanelle.
Soos meeste mense reeds weet, het Lanelle peperduur mikrochirurgie in Engeland ondergaan.
Om te help, span ReedValley en ArtSpace kragte saam om hierdie besonderse konsert aan te bied. Afgesien van Valiant, gaan twee uiters gewilde plaaslike kunstenaars, Albert Meintjes en Tanja Storm ook te sien wees.
Albert en Tanja was ook deel was van die super-gewilde Kaapse liefdadigheidskonsert vir Valiant wat reeds uitverkoop is. Albert en Valiant tree al vir baie jare saam op.
Die konsert, wat by ReedValley net buite Mosselbaai gaan plaasvind, begin om 19:00.
Kaartjies teen R150 per persoon, kan aanlyn by ReedValley bekom word. Verdere inligting is beskikbaar by Abé Meintjes (083 268 3718).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'