MOSSELBAAI NUUS - Da Gamaskop-polisie doen 'n dringende beroep op die gemeenskap om nie hulle waaksaamheid te verslap teen opportunistiese misdadigers nie.
Tydens hulle weeklikse bestuursvergadering, het die waarnemende stasiebevelvoerder, lt-kol Maurice van Egmond genoem dat lede van die publiek daarteen moet waak om waardevolle items in hulle voertuie, binne sig te laat.
Volgens die polisiekommunikasiebeampte, ao Kappie Kapp, is hierdie tendens 'n probleem in al die stasie wat die groter Mosselbaai bedien.
"Ons vind dat veral nuwe intrekkers wat hier hervestig soms aan Mosselbaai as 'n rustige vakansiedorp dink. Met die ekonomiese inkrimping en werkloosheid, neem misdaad ook toe. Indien die publiek hulle waaksaamheid verslap, skep dit geleentheid vir misdaad," som Kapp op.
Hy het veral verwys daarna dat waardevolle eletroniese toerusting dikwels binne sig in voertuie gelaat word.
"Dit is veral 'n probleem waar voertuie buite staan en nie agter hekke of in motorhuise toegesluit word nie. Maak ieder geval seker dat jou woning se deure en vensters toe is. Moenie 'n geleentheid skep nie."
Nog 'n tendens, wat ook opnuutvoorkom is bedrieglike transaksies met betrekking tot die verkoop van voertuie, spesifiek aanlyn.
Die Da Gamaskop-polisie het in die onlangse verlede gereeld wenke deurgegee oor die hantering van aanlyntransaksies, veral met betrekking tot die bespreking van akkommodasie en aankoop van goedere.
"Maak seker voor jy enige gelde betaal dat die goedere wat jy wil aankoop, in hierdie geval 'n voertuig, wel te koop is en dat die persoon met wie jy handel, wel bestaan. Moenie goedsmoeds depositos betaal nie," waarsku Kapp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Klein Karoo nuus'