MOSSELBAAI NUUS - 'n Jong man van Mosselbaai is op 7 September minstens ses keer met 'n mes gesteek.
Die slagoffer, Maakhi Mjungu (24) het die voorval oorleef en is kort daarna in die George provinsiale hospitaal opgeneem.
Mjungu is intussen na die Mosselbaai provinsiale hospitaal oorgeplaas.
Polisiewoordvoerder, sers Kappie Kapp van die KwaNonqaba-polisie het die voorval bevestig. Die polisie het op 10 September 'n verklaring by Mjungu afgeneem.
"Twee onbekende mans het die slagoffer om ongeveer 22:00 in Mawawastraat voorgekeer en verskeie steekwonde toegedien." Volgens sers Kapp het die verdagtes daarna gevlug.
Die saak word ondersoek deur sers Kakaza van die KwaNonqaba-polisiestasie.
Enigeen met inligting oor die voorval word versoek om sers Kakaza te kontak (044 606 5609). "Alle inligting sal vertroulik hanteer word."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'