Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 38-jarige man wat op Woensdagoggend, 30 Junie in die see by PetroSA se Orca-platform gevind is, het glo aan polisiebeamptes gesê hy is lief vir swem. Die man is om 04:30 in die water by die platform gevind.
Die waaghalsige swemmery volg op ‘n nag van hewige wind en groot golwe gepaardgaande met ‘n vlak 6-waarskuwing van die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
Polisiebeamptes van Mosselbaai moes Woensdagmiddag per helikopter na die Orca vlieg om die swemmer in hegtenis te neem. Hy moes ook deur bemanningslede vir blootstelling behandel word.
Die Advertiser het betroubaar verneem dat die man tussen dorpe swerf en tans nie ‘n vaste adres het nie. Hy het glo net gesê dat hy is lief vir swem en daarvan hou om diep in die water in te gaan.
LEES HIER: Orca swimmer in Court today
Hoewel die swemmer se identiteit aan die Mossel Bay Advertiser bekend is, kan dit nie in die media gepubliseer word nie omdat hy nog nie formeel in die hof verskyn het nie.
Hy word aangekla van die oortreding op die Wet op Nasionale Sleutelpunte.
Hoewel die man gister, op Donderdag, 1 Junie by die Mosselbaai-landdroshof was, het die Advertiser verneem dat die saak nie op die rol geplaas is nie. Die man is dus intussen vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'