MOSSELBAAI NUUS - Jim Spitsveld, die inspirasie agter Jakkalsvlei-wyne se gesogte Lord Jackal-reeks, is Dinsdag in die ouderdom van 98 oorlede. Hy sou in September sy 99ste verjaarsdag vier.
Dié hartseer nuus is op 3 Augustus via Jakkalsvlei se sosialemediablad aangekondig.
Die Lord Jackal-reeks is in Desember 2016 bekendgestel by 'n geselligheid op Mosselbaai waar Oom Jim self teenwoordig was.
Verskeie gaste het gretig nadergestaan om hom te ontmoet, aangegryp deur sy storie, terwyl hy in nederige verwondering nie veel erg aan die orasie oor hom gehad het nie.
Jim Manus wat later glo Jim Spitsveld gedoop is, was egter veel meer as net die inspirasie agter 'n handelsmerk.
Sy dogter Maria Meintjies vertel dat haar pa, so klein van gestalte, nie 'n bang haar op sy kop gehad het nie.
"Hy was 'n intelligente mens wat baie van uitdagings gehou het. Sy plek was die berge en die klowe waar hy kuddes teen ongediertes beskerm het. Hy sou 'n ongedierte soek tot hy hom kry."
Maria sê dat hy ook beheerde veldbrande op plase dikwels eiehanding ter wille van die beste weiding vir die vee bestuur het.
"Hy is een keer so in 'n kloof deur die vuur vasgekeer, maar ook daar het hy uitgekom."
'Lord of jackals'
Jantjie Jonker, wynmaker en eienaar van Jakkalsvlei het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser verduidelik hoe ver terug sy familie se pad met Jim Spitsveld loop.
"Hy het op my oupa, Jantjie Horn (98) se plaas naby Gouritzmond groot geword. As jong man het hy op Anton Müller se plaas Melkhoutessenbos naby Jakkalsvlei kom werk."
Jantjie sê dat sy oupa en Oom Jims, soos hulle hom geken het, nog al die jare vriende is.
"Op hulle verjaarsdae, het hulle altyd saamgekuier. Sy dogter, Lena, het my help grootmaak," verduidelik Jantjie.
Maar hoekom 'n wynreeks na Oom Jims vernoem?
"Baie boere het sy hulp gevra wanneer van hul lammers deur 'n rooikat of rooijakkals gevang is. Dan het hy met sy honde en geweer die spoor gevat. Hy is volgens my the lord of the jackals."
Jantjie sê sy duidelikste herinnering aan Oom Jims, is hoe baie hy hom langs die pad met sy honde en sy geweer sien stap het.
"Hy was altyd netjies aangetrek en wanneer jy by hom gestop het, het hy jou altyd met 'n glimlag gegroet en vriendelik gesels. Hy was altyd 'n voorbeeld vir almal gewees."
Soos Oom Jims, is die Lord Jackal-reeks wat na hom vernoem is inderdaad ook uitnemend.
"Daar is vier wyne in die Lord Jackal-reeks. Ons maak net 'n 1 000 liter van elk jaarliks. Van die toekennings wat die Lord Jackal-reeks al ontvang het sluit in dubbel goud by die internasionale Michelangelo-toekennings, 90+ punte by Winemag en 'n 4.5 ster van die Platter's Wine Guide ontvang."
Kinders by dosyne
Maria sê haar pa was twee keer getroud en het beide sy vrouens oorleef.
"Hy't nog tot diep in sy jare gewerk, seker tot oor die 60. Hy kon nie stilsit nie en het maar altyd dingetjies bly doen, al was dit ook skape skeer."
Na die dood van sy tweede vrou het hy by een van sy seuns op Albertinia gaan woon, waar hy volgens Maria ten tye sy afsterwe, die oudste persoon op die dorp was.
"Hy het met niks gesukkel nie en nog net so gestap. Hy't altyd gesê hy stap so, want as dit nie daarvoor was nie, was hy lankal dood. Als uit die ou dae het hy onthou en baie grappe gemaak. Wat hom so helder gehou het, was sy verhouding met die Here. Hy sou tot vyf keer in die nag as hy wakker word, hoorbaar bid."
Jim Manus het 13 kinders, drie dogters en 10 seuns, waarvan drie reeds oorlede is. Daarbenewens het hy 67 kleinkinders, 122 agterkleinkinders en vyf agter-agterkleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'