MOSSELBAAI NUUS - Operasionele personeel van die Sentrale Verbeteringsdistrik in Mosselbaai, het verlede Vrydag, 17 Desember erkenning gekry vir hulle toegewyde patrollering wat oor baie jare strek.
Die lede het sertifikate van waardering ontvang vir diens langer as vyf jaar.
Die Sentrale Verbeteringsdistrik oftewel CID is in 2012 tot stand gebring ten einde veiligheid in die middedorp te verbeter. Tydens 'n kort seremonie by die Delfino's Restaurant, het uittredende voorsitter van die CID, prof Erwin Schwella gesê dat die operasionele personeel hulle werk beslis nie vir eie gewin nie, maar in diens van ander verrig. Schwella het gesê wat die operasionele personeel so effektief maak, is dat hulle voetsoolvlakwaarnemers is van waar kriminele en problematiese gedrag die vrede binne die gemeenskap versteur.
"Dit is 'n onontbeerlike stelsel."
Raadsheer Dirk Kotzè, uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, was ook teenwoordig om met die manne blad te skud.
"Julle doen 'n ondankbare werk. Julle kry baie opdraand van mense wat julle uitskel, maar julle vat dit op die ken en gaan voort met die werk wat gedoen moet word. Wat julle doen, werk vir die dorp. Julle is tried and tested."
Die vergroting van die CID, soos vroeër vanjaar was nie suksesvol nie, het Kotzè genoem, maar hy het die CID aangemoedig om nie op te hou probeer nie.
Jacques Duitsjan, Henzil du Preez en Jerry Mbandla spog met agt jaar se diens. Martin Blaauw, wat onlangs vanweë gesondheid uit diens moes tree en Melvin Groenewald spog onderskeidelik met ses en vyf jaar diens.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'