Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die besoek van 'n paar spoggerige Lamboghini's aan Mosselbaai verlede week is met geesdrif deur motorsportentoesiaste verwelkom. Tog het nie net die sogenaamde petrolheads hulle aan dié vuurwaens verkyk nie.
Donderdag, 22 Augustus sal vir talle Mosselbaaiers - en die talle van naburige dorpe wat hierheen gestroom het om in die skouspel te deel, nog lank in die gedagtes talm.
Skares, oud en jonk, het van lank voor die verwagte wegspringtyd van die massarit deur die dorp langs die strate stelling ingeneem om 'n glimps van die vinnige vuurwaens te sien. Hulle is nie teleurgestel nie.
Die Lamborghini's het eers op 'n massarit deur die dorp harte laat warm klop deur soms die rewolusies 'n bietjie op te jaag. Die groot pret het begin nadat 'n groepie begunstigdes die passasiersitplekke van 'n paar van die voertuie kon inneem en daar van De Bakke tot by die Punt gevorder is.
Enjin brand
Een van die Lamborghini-eienaars het digby die Punt probleme met sy motor ondervind. Hoewel Mosselbaai se brand- en rampbestuursdienste se brandweerwa in skraps meer as net een minuut op die toneel was, het die eienaar en van sy vriende die brand in die enjin van die Lamborghini blitsig geblus.
Die toergroep se ondersteuningsdienste het die voertuig laat versien, en na wat verneem word, het dit later weer by die groep aangesluit.
By die Punt, en later ook in Georgeweg het ywerige fotograwe die kans gebruik om die voertuie vanuit elke hoek af te neem en facebook en ander sosiale media het gekreun onder die opgewonde plasings wat daarop gevolg het.
Kyk 'n video hieronder
By die steilte van die Marshstraatheuwel is in groot getalle saamgedrom om die Lamborghini's se gekontroleerde snelritte te beskou. Uiters hoë snelhede is in die bestek van enkele 100 meter behaal.
Vir 'n paar uur het toeskouers hul sorgeloos oorgegee aan die skouspel van kleur, klank, enjingeraas en die opwinding van spoed. Blinkgepoetste vuurwaens se nederige eienaars het nie 'n snars omgegee dat belangstellendes selfs in hul superduurmotors klim vir selfies nie en het geduldig die talle navrae oor hul voertuie beantwoord. Boonop het die eienaars ruim tot liefdadigheid in Mosselbaai bygedra.
Nou word met groot verwagting uitgesien na die volgende besoek van die supervinnige supervoertuie op 30 April volgende jaar.
Dán sal soveel as 50 blitsvinnige voertuie deur Mosselbaai se strate pronk.
Vryskutfotograaf Julian Scholtz toets die gerief van die bestuurder se sitplek in hierdie Lamborghini.
Die pragvoertuie is behoorlik bekyk en gefotografeer. Mosselbaaiers en mense van sover as Riversdal, Oudtshoorn en George het hulle aan die Lamborghini's op Mosselbaai kom verkyk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'