MOSSELBAAI NUUS - Sedert die eerste geval van Covid-19 in Mosselbaai aangemeld is, het die Mossel Bay Advertiser met pasiënte probeer kontak maak deur middel van familie en vriende. Navrae en versoeke het egter op 'n dooiepunt uitgeloop, aangesien dit geblyk het dat pasiënte wat positief getoets is, vreesagtig vir viktimisering was.
Verlede Woensdag, 15 April het 'n 49-jarige vrou, wat versoek het om anoniem te bly, 'n gedig oor haar ervaring van die virus met die Advertiser gedeel.
Sy is 'n werknemer by 'n winkel in die Langeberg Mall.
"Sy het die gedig geskryf nadat 'n plaaslike pastoor se boodskap oor die virus gerig aan diegene in kwarantyn, haar hele siening daarvan en vrees daarvoor verander het," vertel die familielid.
Die vrou is op Sondag, 4 April met die virus gediagnoseer en het twee weke in die kwarantynfasiliteit by PetroSA deurgebring. Sy is vroeër vandeesweek huis toe, nadat sy die kwarantynperiode voltooi het, het 'n familielid by navraag bevestig.
'Kwarantynvroue'
Heb.13:5,6 - Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met vertroue sê: Die Here is my Helper; ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?
Met 'n stokkie word in jou keel gekrap
om 'n speeksel monster te vat
Dit voel of jy enige oomblik kan braak
Van die mislike gevoel en die stokkie se gewoel
Die keel voel teer
Jy moet skoons 'n traantjie beheer
Nou die gewag
Uitslae neem 'n dag
Antwoord kom positief
Klink vir jou na 'n lieg
Maar jy moet bieg
Koeël is deur die kerk
Coronavirus jy't my gemerk
Jy is so deurmekaar
Corona is mos 'n gevaar
Ai Here is dit waar?
Coronavirus net die aanhoor maak siek
Nog 'n nommer van die statistiek
Maatreëls moet nou in plek
Alles maak jou gek
Nou moet jy trek
Jy murmureer en redeneer
En vergeet wie is in beheer
14 dae van kwarantyn
Almal sê ag shame
Jy voel soos een met melaatsheid
Jy moet tog uit die beskawing uit
Iewers gaan jy nou aansteek
Daar ontmoet jy iemand van die kerk
Sy is jou buurvrou
Ai Here U is getrou
Nou kom die reëls hou jou afstand
Die kwarantynvroue het 'n band
Tog so interessant
Wie kan hulle skei
Om saam te pray
Saans 07:00 word daar aan die Here geroep
Die kwarantynvroue breek dan elke vloek
Hulle word deur die Here besoek
Hulle op 'n mission
God's decision
Met masker en handskoen word ons geisolate
Dis God se tyd
Ons word geseën deur pastore, vriende en familie
Verryk in die evangelie
Kwarantynvroue nie meer so verlore
Ontvang musiek en sang van kore
Hulle word so gebless
Hulle het nie eens huis stres
Die kwarantynvroue gewaar die Here is in beheer
Hy bewys Hom keer op keer
Dankbaar vir elke sms en oproep
Dit versterk net die gemoed
Hulle kan net sê dit gaan goed
Al was daar dae wat die bors nie lekker was
Moes ons hom maar met stoom vergas.
Die Vroue in Kwarantyn
Staan soos mense in 'n trein
En die phone bly aanlyn
Virus laat ons toe lekker rus
Ons leer om te survive met min
Al wat ons weet God was daar van die begin
Dankie aan elkeen se steun
Die Here seën!
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'