TUINROETE NUUS - Die Koos Roets van kortflieks sit dalk in die Group Editors-stal. Wessel van Heerden, 'n joernalis van die George Herald en lid van Group Editors se aanlynnuusredaksie is sopas bekroon met 'n derde plek in kykNET se landwye kortfilmkompetisie.
Hierdie kompetisie is aangebied in vlak 5 van die grendeltydperk toe Suid-Afrikaners nie hulle huise mag verlaat het nie.
Groei elke dag
Aan kreatiwiteit skiet Wessel nie tekort nie. Aanvanklik het hy beeldende kuns studeer aan die Universiteit van die Vrystaat, maar later na 'n graad in BA Kommunikasiekunde oorgeskakel. Een van sy hoofvakke was fotografie. Al het hy in die joernalistiek beland, het hy ook kursusse in pottebakkery, grafiese ontwerp en die vervaardiging van juweliersware voltooi.
Na 'n draai in die drukkersbedryf, skakelwerk en grafiese ontwerp, word hy in 2005 'n lid van George Herald se redaksie. 'n Nuwe avontuur wag vir hom in die ontwerp van onder andere 'n interaktiewe e-onderrigplatform vir Sasol, maar in 2017 keer hy terug na Group Editors, hierdie keer as digitale koördineerder.
Hy was altyd baie lief vir fotografie en videografie. "Ek het in standerd 7 met my eie geld my eerste filmkamera gekoop en letterlik alles afgeneem wat ek in die hande kon kry. Ek glo daaraan om steeds elke dag te verbeter. Dit is 'n lang pad van groei."
Kortfilm
Vir kykNET se kompetisie, was die reëls vanselfsprekend – jy moes alles by jou huis doen. "Dit het my aandag dadelik getrek omdat dit vir my 'n uitdaging was om met so min moontlik, soveel moontlik te sê."
Sy projek se naam is Verbeel'ding. "Dit gaan oor 'n dogtertjie wat alleen binne haar huis toegegrendel is. Om die alleenheid te oorkom, moet sy haar verbeelding gebruik. Sy verlang na 'n maatjie. Of, jy kan dit sien as 'n sussie wat oorlede is. Haar verlange is groot, dus skep sy vir haar 'n verbeeldingsmaatjie waarmee sy speel. Die maatjie raak later so eg dat sy haar kan 'sien' en met haar kan speel."
Hy moes sy dogter Kiara (9) met lekkergoed omkoop om die hoofkarrakter te vertolk. "My ander dogter Carissa (13) het my gehelp om ligte en reflekteerders vas te hou. Sy het ook gehelp met die klankopnames."
Alhoewel die kortfilm net 3 minute lank moes wees het, is van die tonele oor en oor geskiet totdat dié regisseur tevrede was.
"Elke klank het ek ook na die tyd opgeneem en ingesny. Ek het spesifiek net op klanke staatgemaak om die stilte en alleenheid te beklemtoon. Musiek was oorbodig."
Die film is ook sonder dialoog. Daar is groot moeite met die tonele gedoen. "Ek point en shoot nie net nie, ek beplan elke deel noukeurig. Mense vergeet maklik hoe belangrik beligting is."
Hy was totaal oorbluf toe kykNET hom verlede week bel.
"Ek het al amper van die kompetisie vergeet." Daar was glo 'n magdom inskrywings ontvang. Sy dogters deel in sy prysgeld. "Hulle elkeen kry iets vir hul werk."
Wessel glo dat video die druk op die huidige vermaaklikheidsindustrie wel sal verlig én sal oorleef. Inteendeel, hy het homself bemagtig om nuwe geleenthede aan te pak.
"Ek het toerusting aangeskaf sodat ek regstreekse aanlyn-uitsendings kan hanteer. Ek glo dit is 'n groeiende mark."
Die filmspan agter die bekroonde fliek, Wessel van Heerden met sy dogters, Kiara (9) en Carissa (13). Kiara was die aktrise en Carissa die kamera- en beligtingsassistent.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'