Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "Die vraag is hoe om korrupsie op munisipale vlak gouer op te spoor en te voorkom. Ek meen die mense wat vir dié doel opgelei is, die munispaliteite se eie interne ouditeure, moet onafhanklik kan funksioneer. Hierdie eenhede se salarisse moet deur die nasionale fiskus betaal word en hul rapporteringslyne moet gewysig word om, benewens aan die burgemeester en munisipale bestuurder, ook aan die LUR en nasionale minister en die eksterne ouditkomitee.
"As die munisipale ouditverslae na hierdie vyf eenhede toe gaan, is ek seker dat ons minstens 80% tot 90% van korrupsie op plaaslike regeringsvlak sal kan uitwis. Hulle sal dan die mandaat hê om enige onwettige transaksies te stop wanneer hulle dit blootlê," aldus die LUR vir plaaslike regering in die Wes-Kaapse regering, minister Anton Bredell.
Bredell was een van die leiers van die Demokratiese Alliansie (DA) wat op Maandag, 28 Mei belanghebbendes op Mosselbaai toegespreek het.
Enorme korrupsie
Die land steier na die Suid-Afrika se ouditeur-generaal, Kimi Makwetu se verslag oor die finansiële welstand van plaaslike owerhede in Suid-Afrika verlede week bekend gemaak is. Slegs 33 van die land se 258 munisipaliteite het skoon oudits behaal. Van hierdie 33, is 21 in die Wes-Kaap.
"Dis ironies dat feitlik geen mediadekking afgestaan word nie aan die feit dat 21 van die 33 munisipaliteite wat skoon oudits verwerf het, in die Wes-Kaap geleë is. Mosselbaai, soos Swartland verdien lof vir hul aanwysing as die beste munisipaliteite in Suid-Afrika. Hierdie spogtoekenning is deur die onafhanklike navorser Ratings Afrika gemaak. Beide die beste munisipaliteite in land is in die Wes-Kaap geleë.
"Vier jaar reeds beywer ek my om vir die ouditeursdienste van plaaslike owerhede onafhanklike status te bekom. Dán sal dit baie maklik wees om onmiddellik en onbevange op te tree teen enige poging om die streng finansiële wetgewing en prosedures te omseil," meen Bredell. Hy sê sy departement soek deurentyd na maniere om korrupsie op plaaslike owerheidsvlak uit te roei en te voorkom.
Kyk 'n video hieronder:
Bredell het bygevoeg dat Mosselbaai, soos Swartland (Malmesbury) munisipaliteit alle eer verdien vir die toekenning deur Ratings Afrika as die beste munisipaliteite in die land.
Die minister sê dit is 'n baie tydrowende proses om munisipaliteite werklik onder administrasie te plaas. Die DA het baie sukses behaal met die destydse besluit om 'n administrateur vir Oudtshoorn aan te stel. Soos in hierdie geval, word die roete van onderhandeling eerder gevolg om administrateurs én die relevante, kundige personeel by sukkelende munisipaliteite te plaas sodat dit reggeruk kan word.
Hy sê dat oorweging geskenk word om by drie munisipaliteite in die Wes-Kaap administrateurs te plaas.
Anders as in die res van die land, waar skoon oudits feitlik ongekend is en grootskaalse korrupsie alledaags is, is die Wes-Kaapse regering tot dienslewering op grondvlak verbind, selfs al moet ingegryp word en administrateurs verskaf word om diensvlakke tot aanvaarbare standaard te herstel.
Lees 'n vorige artikel: 'Korrupsie op munisipale vlak kan gekeer word'
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'