MOSSELBAAI NUUS - Die ATKV Hartenbos en Radio Tygerberg 104FM bied op Oukersaand, Saterdagaand 24 Desember, 'n Kersfees onder die sterre-geleentheid in die amfiteater in Hartenbos aan.
Kunstenaars wat die skare gaan vermaak, sluit in Elvis Blue, Koos van der Merwe en Stephan Cloete.
"Ons is opgewonde om hierdie jarelange tradisie weer volskaals te kan vier," vertel Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van die Bloudrukgroep, waaronder Radio Tygerberg 104 val. "Dit is daardie tyd van die jaar waartydens ons as gelowiges stilstaan en onthou dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy bereid was om Sy enigste Seun vir ons te gee."
Elvis Blue vertel dat gesinne wat Kersliedere saamsing een van sy mooiste musiekherinneringe uit sy kleintyd is. "Dit maak hoop in my los," vertel hy nostalgies.
Ook Mornay Beukes, oordbestuurder van ATKV Hartenbos, beskryf dié jaarlikse instelling in Hartenbos as 'n geleentheid wat die hart raak. "Ons glo die meeste gesinne keer vanjaar post-Covid terug na Hartenbos en soos in die verlede behoort die geleentheid groter en beter ontvang te word."
Zevenster beskryf hierdie Kerskonsert as méér as 'n vertoning. "Dit is 'n geleentheid vir families en gesinne om saam te kom en die Kersverhaal musikaal te beleef, saam te sing en die geboorte van Jesus Christus te vier."
Hekke open 18:00 en toegang is gratis. Daar sal wel 'n donasie vir die Hartenbos Bejaardesorg opgeneem word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'