MOSSELBAAI NUUS - Die toenemende misdadigheid en uitbuiting van gemeenskappe, meer spesifiek die jeug wat deur dwelmhandelaars geteiken word, het meegebring dat die gemeenskap en spesifiek die NGO-sektor deur 'n vreedsame protesaksie hul misnoeë te kenne wil gee.
"Ons skoolkinders word daagliks geteiken deur bose elemente wat daarop uit is om hulle te roof van hul noodsaaklike besittings. Werkende persone word helder oordag in die gemeenskap van hul swaar verdiende geld beroof.
"Ons vroue en dogters word verkrag en aangerand deur kriminele wat geen respek vir die samelewing toon nie. Inbrake by wonings, skole, kerke, besighede en voertuie neem toe en ons plaaslike polisie beskik nie oor die nodige mannekrag en ondersteuning om misdaad suksesvol te bekamp nie," aldus gemeenskapsleier Jerome Meyer.
Om 'n suksesvolle aksie te loods word die gemeenskap na 'n vergadering op Donderdag, 18 Oktober om 19:00 in die D'Almeida-gemeenskapsaal genooi sodat 'n mandaat vir voorgenome optrede bekom kan word.
Teikengroepe
Die NGO-sektor nooi verteenwoordigers van kerke en kerkleiers, skoolhoofde en onderwysers, besigheidslui, politieke leiers en die gemeenskap van die groter Mosselbaai na die vergadering.
Planne word beraam om 'n vreedsame protesoptog op Vrydag, 2 November vanaf die D'Almeida-sportgronde na die plaaslike landdroskantoor.
Die sameroeper, Jerome Meyer (079 048 7950) kan vir verdere inligting gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'