MOSSELBAAI NUUS - 'n Agt-en-veertigjarige vrou het gister in die hof verskyn na aanleiding van die dood van 'n 51-jarige man die naweek.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie het die vrou, wie se naam nog nie bekend gemaak kan word nie en die man, Sam Cooper op Vrydagaand, 10 Mei gaan kuier waarna hulle met hulle tuiskoms omstreeks 21:00 'n onderonsie gehad het.
Die vrou het na bewering die man met 'n steakmes 'n wond in die maag toegedien.
Volgens inligting verskaf deur die polisie het die vrou die man alleen tuis gelaat en weer uitgegaan.
Nooddienste is na die toneel ontbied, maar met hulle aankoms omstreeks 21:50, het die man geweier om saam met die mediese personeel per ambulans na die hospitaal vervoer te word.
Teen 11:00 die volgende oggend, Saterdag 11 Mei, is die man deur sy volwasse seun dood in sy bed aangetref. Die voorval het by 'n woning in Hermanusstraat, Uitbreiding 8 plaasgevind.
'n Saak van moord word ondersoek deur sers Adele Binneman van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'