MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Afrikaanse Polisie onder leiding van die nuwe Distrikskommissaris, Generaal-Majoor Modishane, is gedurende die feestyd besig met verskeie hoë-sigbaarheid polisiëringsoperasies regoor die Tuinroete streek. Dit staan bekend as die Safer Festive Season (SFS) inisiatief.
Die publiek het verskeie sosiale media plasings gedeel waar n groot hoeveelheid polisievoertuie in Mosselbaai by De Bakke-strand en op Fourieweg, opgemerk is.
Volgens die polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, sersant Chris Spies, is die aktiwiteite deel van 'n operasionele plan om hoë-sigbaarheid polisiëringsoperasies in sekere gebiede te handhaaf en die toemaak van drank- en dwelmplekke spesifiek in areas waar die misbruik daarvan voorkom.
Volgens Spies was hulle gister in Uniondale en Dinsdag, 3 Januarie, in Heidelberg. "Dit is belangrik om hoë-sigbaarheid polisiëringsoperasies toe te pas om inwoners en besoekers aan die streek se veiligheid te verseker, terwyl hulle hier by ons kuier.
Dit duur nog tot Sondag. Buiten die operasies, vind daar ook patrollies plaas in gebiede waar daar hoë vlakke van misdaad voorkom en ook om strandgebiede veilig te hou.
Ook by die ingang na ons dorpe word daar padblokkades in samewerking met die provinsiale en plaaslike verkeersowerhede gehou." Sedert 27 Desember tot Maandag, 2 Januarie is 683 mense gearresteer en dwelms met 'n straatwaarde van R250 000 gekonfiskeer. Verdere suksesse sal binnekort bekend gemaak word.
Foto's: SAPS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'