Gallery Video
HARTENBOS NUUS EN VIDEO - Cecil Groenewald en sy vrou Lorinda, het in die Vrystaat geboer voor hulle 10 jaar gelede na Hartenbos verhuis het.
Hulle het 'n suksesvolle toerisme vervoer-besigheid, Crux Coaches, bedryf totdat die Covid-pandemie die wêreld getref het.
FOTOGALERY: GrootCecil maak messe
GrootCecil is deur sy neef, KleinCecil, aangemoedig om messe te maak en hy het dit sommer vinnig baasgeraak en aan vriende uitgedeel.
Hy vertel, "my twee dogters het my aangemoedig om die messe op die internet te bemark en te verkoop en die besigheid het ná net ses maande ontplof".
Hulle het 'n bestelling van 150 messestelle (wat 'n opsnybord insluit) gekry en besef dat hy nie manalleen hiermee kan volhou nie.GrootCecil het in 2012 'n breinstamberoerte gehad en was vir drie maande in 'n rehabilitasie-sentrum in Bloemfontein. Hy vertel dat die werk met sy hande terapeuties is en ook help met sy balans. "Dis 'n wonderwerk dat ek hier kan staan en werk. Alle dank aan ons Hemelse Vader, Sy Genade is groot."
Met die vinnige groei van die besigheid het hy 'n ander bekende messemaker, Piet van der Westhuizen, genader om te help met die vorming en verharding van die staal in sy oonde. Dewald Pienaar is ook intussen betrek en help by die besigheid. Die leer word deur John Arnold wat voorheen 'n busbestuurder by Crux Coaches was, verwerk en die houtborde word deur Frederik Wagenaar gemaak.
'n Lewensaar
Cecil se dogter en haar man, Celinda and Etienne Marais, is verantwoordelik vir die bemarking en aanlynwinkel.
Sy skoondogter, Olivia Groenewald maak die voorskote en die sakke waarin die produkte versend word en sy seun Frans help met verkope op markte.
GrootCecil se vrou, Lorinda, maak die pragtige klaargemaakte messestelle in pakkies op en behartig die versending daarvan. Hul jongste, Liané doen die ontwerpe van die stempels. Só het 'n stokperdjie ontwikkel in 'n suksesvolle produksielyn en 'n lewensaar vir baie mense.
GrootCecil sê die idees vir die ontwerpe het ontstaan rondom kampvure tydens jagveld-ekspedisies oor die jare heen. Die besigheid was vanjaar een van die top vyf finaliste in KFM se Kleinsake-kategorie.
Volgens GrootCecil, het hy die kennis wat hy 50 jaar gelede op skool tydens houtwerk-klasse geleer het, gebruik om sy stokperdjie te beoefen. Hy vra dat die regering weer hierdie vaardigheidsvakke terugbring in die kurrikulum, sodat kinders handvaardighede kan leer wat hulle in hul latere lewe weer kan gebruik.
VIDEO - GrootCecil vertel van sy messe (Video: Alet Engelbrecht).
Lorinda Groenewald, GrootCecil se vrou, besig met die verpakking van die messestelle.
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'