MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het sy gesamentlike beheersentrum om 04:00 op 20 Maart geaktiveer as deel van sy gebeurlikheidsplan om die nasionale wegbly-aksie se impak op die plaaslike gemeenskap te bestuur.
Patrollies is deurlopend gedoen deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en munisipale wetstoepassers, met behulp van ander strukture soos die gemeenskapspolisieforums en onderskeie geakkrediteerde buurtwagte wat in 'n ondersteunende kapasiteit betrokke was.
Die munisipaliteit se ander vennote in gemeenskapsveiligheid, het ook lugsteun op bystand aangebied. Hommeltuie is ook ingespan by die moniteringswerk.
Die sentrum is benut as 'n nodale punt vir inligting om die gemeenskap op hoogte van sake te hou en as sentrum waaruit 'n geintegreerde benadering tot gemeenskapsveiligheid geimplementeer kon word.
Deur die loop van die dag, is geen insidente aangemeld of bedreigings gewaar nie. 'n Klein groep mense het in KwaNonqaba byeengekom en tot ongeveer 100 plus gegroei.
Die groep het egter vreedsaam deur die strate van KwaNonqaba beweeg en later, een ongeveer 12:30 uitmekaar beweeg.
Daar is reeds op Donderdag, 16 Maart met stasiebevelvoerders van die onderskeie polisiestasies binne die groter Mosselbaai byeengekom om gebeurlikheidsplanne te bespreek. Die vergadering is deur die Mosselbaai-munisipaliteit by die gesamentlike beheersentrum gehou.
'n Gesamentlike aanlynvergadering is op 20 Maart omstreeks 13:00 gehou tussen al die rolspelers in gemeenskapsveiligheid oor die Tuinroete heen betrokke wat betrokke was by die bestuur van voorvalle rondom die oproep vir 'n nasionale staking.
Die vergadering is gelei deur kol Lionel Kennedy, distrikskoördineerder vir sigbare polisiëring.
Verslae aangaande die gebeurlikheidsbeplanning regoor die Tuinroete was positief. Geen gewelddadige voorvalle of dreigemente is aangemeld nie.
Daar is tydens die vergadering berig dat klein groepies mense op verskeie plekke aan die Tuinroete versamel het, maar dat hulle meestal teen die middag vreedsaam uitgemekaar is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het 'n sterk teenwoordigheid deur die naweek gehandhaaf en veral vanaf die vroeë oggendure van Maandagoggend.
Generaal Norman Modishana, bevelvoerder van die Tuinroete-polisiedistrik, het gesê die voorval is baie goed bestuur en het alle vennote bedank vir hul samewerking en bystand. Regoor die distrik is ongeveer 150 polisie-beamptes en nagenoeg 60 polisie-voertuie ontplooi tydens die bestuur van die voorval.
"Ons is in beheer. Ek is trots op die vennoot-skappe en goeie samewerking wat tussen die polisie, plaaslike regering en ander strukture bestaan," het genl Modishana afgesluit.
Hommeltuie is ingespan om te bepaal waarheen die groep wat deelgeneem het aan die vreedsame optog beweeg het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’