So reageer Johnny de Lange van Dwars-wegstrand na die voorval waarin hy en sy vrou in die vroeë oggendure in hul huis deur drie jong mans oorval is.
Joy en Johnny de Lange, beide afgetredenes, is omstreeks 04:40 op Saterdag, 9 Maart, deur drie gewapende mans in hul huis in GG Cillierstraat, Dwarswegstrand, oorval. Die huis is in 'n beveiligde area met toegangsbeheer en is op die onderste vlak met diefwering toegerus.
Joy de Lange vertel sy en Johnny (Johan) is in Oktober 2012 getroud. Hy slaap gewoonlik baie lig, maar het op daardie oomblik toe die mans die huis ingekom het, besonder diep geslaap. Omdat sy nog nie al die geluidjies in en om die huis gewoond is nie, het iets wat sy gehoor het haar onrustig gemaak. Nou besef hulle dat dit waarskynlik die aanvallers was wat onder in die huis rondbeweeg het.
Sover bekend het die mans die huis se agterdeur met 'n skroewedraaier oopgedwing. Die verdagtes het in die egpaar se slaapkamer op die boonste verdieping ingekom en hulle met flitse verblind terwyl hulle op geld aangedring het.
"Hulle het 'n goeie Engels gepraat. Een van die mans was met 'n pistool gewapen en het herhaaldelik gesê hy sal ons doodskiet. Hy het selfs die wapen se magasyn uitgehaal en die koeëls gewys, sodat ons moes weet dit is nie 'n speelding nie. Hulle het deurentyd op geld aangedring en ons het al die geld wat ons in die huis gehad het, sonder skroom oorhandig."
Die verdagtes het Johnny (68) en Joy (66) se hande vasgebind. Joy se hande is met 'n elektriese koord vasgebind en die blou merke op die tenger vroutjie se arms is steeds sigbaar. Hulle is na die badkamer geneem, waar ook hul voete vasgebind is, terwyl 'n vuurwapen teen hul koppe gehou is.
Daar is Joy deur die gesig geklap en is lig beseer. Die egpaar is in die badkamer met repe linne aan mekaar vasgebind terwyl hulle binne in die bad gesit het. 'n Duvet is oor hul koppe. "Op daardie oomblik het ek gedink dit is die einde, hulle gaan ons skiet", sê Johnny. Die badkamer is toegesluit voordat die ver-dagtes met 'n televisiestel, rekenaar, selfoon, juwele en kontant en vrugte gevlug het.
Johnny het daarin geslaag om homself los te woel, deur die badkamervenster te ontsnap en het by bure aangeklop om die SA Polisie te ontbied, omdat die aanvallers hul telefoon landlyn gesny en 'n selfoon geroof het.
"Die polisie was binne oomblikke op die toneel en ons het net die hoogste lof vir die Groot-Brakrivier Polisie en ander eenhede wat saamgewerk het en die aanvallers aangekeer het," sê Johnny.
"Wees bedag op die onvoorsiene," voeg Joy by. "Moenie teëstribbel nie. Ons bure se ondersteuning was fantasties; hulle het ons dokter toe gekarwei en versorg."
Johnny sê die gebeure speel deurentyd in sy kop af en hy bly wonder of daar iets is wat hy anders kon gedoen het.
"Ek het in my wildste drome nooit kon dink dat so iets met my, met ons, hiér sal gebeur nie. Nou sal ons baie meer bedag wees op ons veiligheid."
In 'n gesamentlike operasie deur die A en C-skof en Speurdiens van Groot-Brakrivier, die Langeberg K9 Eenheid, Misdaad Intelligensie en die Seegrenseenheid, is daarin geslaag om van die verdagtes op te spoor en te arresteer.
Die bevelvoerder van die Groot-Brakrivier SA Polisiestasie, kapt TC le Roux, het genoem dat die verdagtes met ander voorvalle van huisbraak verbind word. Daar is oor die naweek by vyf ander huise in dieselfde omgewing ingebreek.
"Ek wil al die lede wat by hierdie gesamentlike operasie betrokke was, gelukwens met die goeie arrestasie. Polisiebeamptes van Groot-Brakrivier se A-skof het vrywillig aan diens aangebly en die C-skof se lede bygestaan. Die sukses van hierdie arrestasies kan aan uitstekende spanwerk en toegewyde lede se harde werk toegeskryf word," sê kapt Le Roux.
"Ek wil 'n beroep op die publiek doen om met groter omsigtigheid na hul veiligheid om te sien. Gebruik die veiligheidsmaatreëls waarmee huise toegerus is, konsekwent. Maak ook seker eiendomme is behoorlik beveilig.
"Ek wil ook 'n beroep doen op die gemeenskap om hulle nie teen te sit in gevalle waar oortreders hulle binne die huis oorval nie. Dit is veral wanneer teenstand ondervind word, dat mense seergemaak word.
"Huise met oop vensters word veral getei-ken. Wanneer inwoners wel met oop vensters wil slaap, moet seker gemaak word dat behoorlike diefwering voor die vensters aangebring word. Gaan van tyd tot tyd die diefwering na om seker te maak dit is steeds stewig.
"Die inwoners word weer genooi om betrokke te raak by die Gemeenskap Polisiëringsforums, en om by hul gemeenskap en bure betrokke te wees. Raak die oë en ore van die die Polisie. Alle leidrade word nougeset opgevolg," het sy begevoeg.
Drie mans is op die N2 naby die Glentana afrit in die rigting van George gearresteer deur Ao Gaylord Muller, kst Kabelo Ntopo en Ao Prins en Ao Botes van die Langeberg K9 eenheid het gesamentlik bygedra tot die arrestasie van 'n ander. Geen vuurwapens is op die verdagtes gevind nie, slegs van die gesteelde eiendom.
Die drie verdagtes het reeds in die Groot-Brakrivier Landdroshof voorgekom. Die saak is uitgestel tot 19 Maart en die mans is in aanhouding.
Groot-Brakrivier SAPD het ook hul dank uitspreek teenoor mnr Gerhardus Moolman en sy span van Suiderkruis Sekuriteit vir hul hulp en met die soektog en opsporing van die verdagtes.

Die Langeberg K9 eenheid se opgeleide hanteerders en polisiehonde was weer eens deurslaggewend in die opsporing van verdagtes na die aanval op twee bejaardes in Dwarswegstrand. Foto: Verskaf
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS