Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Annette Beatrix Müller (neè Grebe, neè Van der Merwe), 'n inwoner van ACVV Huis Loural op Hartenbos, het haar 99ste verjaarsdag op Maandag, 16 Augustus by die tehuis gevier,
Sy is op 16 Augustus 1922 op Hobhouse in die Vrystaat gebore waar haar vader die eerste NG predikant was. Na 'n kort draai in Salisbury in die destydse Rhodesië, asook George, is die gesin daarna na Clanwilliam.
Met haar vader se vroeë aftrede as gevolg van sy gesondheid, het hulle na Beaufort-Wes verhuis. Op pad daarheen is haar moeder oorlede. Op 15-jarige ouderdom moes sy ook die rol as versorger vir haar boetie (6) vervul.
Sy was 'n skrander leerder en goeie sportvrou. Sy was vanaf standerd 6 (graad 8) saam met die bekende hartchirurg, dr Chris Barnard in die klas en hulle was groot maats. Annette spog daarmee dat sy altyd eerste in die klas gestaan het en hy tweede.
Na haar opleiding by Paarl Onderwys Kollege en verdere studie aan die Universiteit Stellenbosch, het sy op Swellendam as liggaamsopvoeding-onderwyseres begin werk. Daar het sy Hein Grebe, die seuns se liggaamsopvoeding-onderwyser, ontmoet. Na sy terugkeer vanaf die Tweede Wêreldoorlog, is hulle in 1947 getroud. Uit die huwelik is seuns gebore, dr Heinrich Grebe, wat reeds oorlede is en Dion Grebe, tans 'n ingenieur.
Kyk 'n video hieronder:
Annette spog met vyf kleinkinders en vyf agterkleinkinders. Sy was die grootste deel van haar lewe aktief in onderwys betrokke, eers in Swellendam en daarna by Laerskool Kraaifontein, waar haar man adjunkhoof was. Hein is op 49-jarige ouderdom oorlede en het sy eers weer na haar aftrede op 65 jaar met Sampie Müller in die huwelik getree. Hy is ook reeds oorlede.
Sy is in vele opsigte 'n merkwaardige vrou, wat ten spyte van vele terugslae altyd weer die lewe ten volle aangevat het. Sy het tot op 75-jarige ouderdom ligatennis gespeel en haar eie motor tot op 96-jarige ouderdom bestuur.
Voor haar tweede huwelik het sy die wêreld plat getoer, wat 'n wêreldtoer ingesluit het. Sy het ook nog tot twee dae voor haar 98ste verjaarsdag alleen in haar woonstel by 'n aftree-oord gebly en was selfversorgend. Na 'n nagtelike val en hoewel sy nog baie beweeglik is, word sy nou by Huis Loural in Hartenbos versorg waar sy baie gelukkig is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'