SLANGRIVIER NUUS - Slangrivier kan met reg met van sy inwoners spog wat ten spyte van persoonlike omstandighede, groot sukses met hul loopbane behaal.
Een so 'n inwoner is Jessica, jongste dogter van pastoor Jephta en wyle Brenda February, wat Maandag, 3 Augustus as staatsaanklaer by George-landdroshof begin het.
Sy het haar ma en steunpilaar op die jong ouderdom van 16 jaar verloor, maar dit het haar nie verhoed om haar droom as jongeling in die stofstrate van Slangrivier na te streef nie. "Ek het reeds as kind gedroom om 'n loopbaan in die regte na te volg," vertel sy.
Jessica het in 2011 aan Hoërskool Heidelberg matrikuleer, waarna sy by die Universiteit Wes-Kaapland (UWK) in 2016 haar LLB (Batchelor of Law)-graad voltooi het. Sy het haar klerkskap tussen 2017/19 by 'n regsfirma in Somerset-Wes voltooi, waarna sy by 'n finansiële diensleweringsmaatskappy tot einde Februarie vanjaar gewerk het.
Gepols oor haar toekomsplanne, het sy gesê dat sy graag eendag as landdros wou dien en dalk nog hoër op in die regspraktyk.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'