MOSSELBAAI NUUS - Drie verdagtes is Dinsdag op Groot-Brakrivier in hegtenis geneem op aanklagte van roof nadat inwoners in Wolwedans die afgelope naweek onder misdaad deurgeloop het.
Tydens die eerste voorval Saterdagaand, is ‘n 35-jarige man in sy woning in Wolwedans doodgesteek nadat vyf gewapende mans in klapmusse ingestorm het en aangedring het op ‘n vuurwapen.
Die verdagtes kon nie ’n vuurwapen vind nie en het van die toneel gevlug.
Die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
Maandagaand het die eienaar van ‘n spazawinkel in Wolwedans deurgeloop toe vier gewapende mans, ook in klapmusse, om ongeveer 21:00 by die winkel ingestorm het.
Hulle het die winkeleienaar en ‘n kliënt met ‘n vuurwapen aangehou en R3 500 kontant asook twee selfone gesteel.
Polisiewoordvoerder, sers Lauriane Botha sê te danke aan goeie speurwerk is drie verdagtes gister in hegtenis geneem.
Die mans tussen die ouderdomme van 21, 25 en 32 jaar is steeds in aanhouding en sal eersdaags in die Groot-Brakrivier-landdroshof verskyn.
Die identiteit van die oorledene is nog nie bekend gemaak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’