Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEOS- Sowat 30 kinders van die Hoogekraal-omgewing, het die afgelope paar weke hard gewerk om draadkarre te bou vir die Draadkar-Fees wat op Saterdag, 6 Mei, gehou word. Die fees word by die Hoogekraal Primêre Skool naby Glentana gehou en begin om 09:00 en duur tot 14:00.
Die projek is 'n inisiatief van die Outeniqualand Plaaswag, die Hoogekraal Gemeenskap in Blou, die Groot Brak Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Groot Brak-polisie om betrokkenheid en samewerking tussen mense in die gemeenskap aan te moedig.
FOTOGALERY: Hoogekraal Primêre Skool se Draadkar-Fees
Volgens die voorsitter van die Outeniqualand Plaaswag, Dewald de Kock, betrek hulle die ouers om saam met hul kinders kreatiewe aktiwiteite te beoefen, bande te verf en te versier en draadkarre te bou. Vir dié kinders wat nie 'n ouer of voog het nie, is daar lede van die plaaswag wat hulle bystaan en as mentors optree. So word die kinders en ouers aktief by die gemeenskap betrek, probleme aangespreek en hulp word verleen indien nodig.
Die draadkar-bouery word by Johan en Yolandi Hewitt en hul dogter, Sarah se woning gehou waar die jong kinders en tieners tuis is en dikwels saamkuier. So tussen die werkery, word daar vinnig vetkoek gebak om die mae vol te hou en die energievlakke hoog. Yolandi vertel dat dit 'n groot vreugde is om die kinders daar te hê en te sien hoe hulle saam met hul ouers werk en verhoudings bou. "Dis goed dat die ouers kan sien waar die kinders se talente lê en dat hulle op die manier positiewe aktiwiteite beoefen en nie in die strate ronddwaal nie."
Fees-verrigtinge
Behalwe die draadkar-kompetisie om die mooiste, mees innoverende en die vinnigste draadkar en eienaar te bepaal, gaan daar ook kosstalletjies, boere-sport en 'n live band wees.
Die polisie se honde-eenheid, die Afrikaanse Christen Vrouevereniging (ACVV) en Johnathan Jonty Martin gaan spesiale vertonings, praatjies en inligtingsessies vir die feesgangers aanbied.
Volgens De Kock beplan hulle om dieselfde draadkar-projek by die verskillende skole in die gemeenskap waar die Outeniqualand Plaaswag, Gemeenskap In Blou en die GPF betrokke is, te doen en aan die einde van die jaar 'n kompetisie te hou waar die skole teen mekaar meeding. "Dit is ons manier om almal in die gemeenskap te betrek en op te hef. Ons het almal dieselfde doelwit en dit is 'n veilige omgewing waar ons kinders kan floreer."
Daar is groot pryse op die spel vir die wenskole en individuele wenners. Besoek gerus die eerste Draadkar-Fees in die pragtige Hoogekraal gebied, naby Glentana.
VIDEO - Yolandi Hewitt vertel meer oor die draadkar- en kaskarprojek tydens voorbereidings in Hoogekraal.
VIDEO - Johan Hewitt vertel van hul betrokkenheid in die Hoogekraal gemeenskap.
VIDEO - Dewald de Kock, voorsitter van die Outeniqualand Plaaswag oor die Draadkar-Fees by Hoogekraal.
Johan Hewitt, voorsitter van die Hoogekraal Gemeenskap in Blou, help met die beplanning en bou van die draadkarre.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’