MOSSELBAAI NUUS - Baie mense, hoewel dalk nie toegewyde voëlkenners nie, het seker al die storie gehoor van kuikens wat uitgebroei word in 'n vreemde voël se nes en daar deur 'n ander "ouer" grootgemaak word.
Nadat 'n pragfoto van Harry Hill op 'n sosiale netwerk gewaar is, het die Mossel Bay Advertiser hom na hierdie verskynsel uitgevra.
Piet-my-vrou se 'poets'
Die eerste geroep van 'n Piet-my-vrou in die lente in die Mosselbaai-omgewing is vir meeste natuurliefhebbers musiek op die ore.
Dit beteken die somervoëlmigrante het aangekom of begin aankom, en dit voorspel gewoonlik 'n vrugbare voëlkyktydperk.
Of bekende tuinvoëls soos die gewone janfrederik en die Kaapse kwikstertjie ook so bly is om die Piet-my-vrou te hoor, is 'n ander saak.
Hulle moet alles in hul vermoë doen om die kalant van hul nessies af weg te hou, want as hulle dit nie regkry nie, lê daar waarskynlik harde werk vir hulle voor!
Die Piet-my-vrou, 'n lid van die koekoek-familie, is 'n intra-Afrika migrant, wat net soos die ander lede van die familie, parasitiese broeiers is.
Hulle lê hul eiers in ander voëls se neste sodat die gasheersoort dit kan uitbroei, en die kleintjies groot kan maak.
Volgens die gesaghebbende Roberts Birds of Southern Africa lê die Piet-my-vrou net een eier in die gasheervoël se nes.
Die drama begin egter wanneer die eier uitbroei, en die kuiken die gasheer se eiers of eie kuikens uit die nes skop.
Etenstyd! Die Piet-my-vrou-kuiken is reeds groter as sy kwikstertjie-pleegouer.
Hy of sy word dan deur die gasheer gevoer met wurmpies en insekte, en die gevoerdery duur voort selfs na die Piet-my-vroutjie uit die nes is.
Volgens Roberts is die kleintjie al van dag 13 af in staat om self kos te kry, maar soms duur die voerdery tot 25 dae voort nadat die kuiken die nes verlaat het.
Soos op die foto van die Kaapse kwikstertjie en die Piet-my-vroutjie op 'n plaas in Brandwag gesien kan word, is die pleegkind baie groter as die pleegouer.
Volgens Roberts weeg die onvolwasse Piet-my-vrou reeds 60 gram wanneer dit die nes verlaat, teenoor die 20 gram van die volwasse Kaapse kwikstertjie.
Laasgenoemde se lengte is sowat 19cm, terwyl dié volwasse Piet-my-vrou tussen 28 cm en 30 cm lank is, en tot 75 gram weeg.
Die Piet-my-vrou verlaat die Wes-Kaap omstreeks einde Januarie jaarliks, en teen die einde van April is die meeste weg uit Suid-Afrika.
Volgens Roberts is dit onbekend waar hulle oorwinter, hoewel hulle reg deur die jaar in die Demokratiese Republiek van die Kongo voorkom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'