MOSSELBAAI NUUS - Dis nie aldag dat 'n mens in een lewensjaar, erkenning kry vir 70 jaar se diens aan jou gemeenskap nie. Vir Dawie Zwiegelaar is dit egter so 'n jaar.
Nie net is Zwiegelaar in Junie vereer tydens die Mosselbaai-munisipaliteit se langdienstoekennings vir 35 jaar se toewyding nie, maar het hy verlede naweek in Kaapstad ook 'n toekenning ontvang vir 35 jaar diens aan die NSRI Stasie 15 op Mosselbaai.
Zwiegelaar is verbonde aan die Mosselbaai-munisipaliteit se direktoraat infrastruktuurdienste as bestuurder, meganiese dienste en vlootbestuur. Hy het 12 jaar by Mosselbaai se Stasie 15 as bevelvoerder gedien.
Stasie 15 is vanjaar 52 jaar oud en Zwiegelaar het beslis 'n kardinale rol in die vorming van die plaaslike NSRI-span gespeel.
Zwiegelaar sê dat die NSRI oor die jare baie verander het tot die dinamiese organisasie wat dit vandag is. Op die vraag of hy sy diensjare 'n halfeeu gaan maak het hy onomwonde geantwoord dat hy beslis so lank moontlik betrokke sal bly.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’