MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-Suidgemeente hou vandag, Vrydag 23 Maart vanaf 17:00 'n lekker basaar op hulle kerkgronde by 15de Laan. Dit beloof om - soos in die verlede - 'n heerlike feesgeleentheid met talle verrassings te wees.
Vanaf 10:00 die oggend is daar 'n tee en koffietuin met heerlike gebak, tee, koeldrank en lekker koffie. Die tee en koffietuin bly oop tot dit donker raak. Speletjies vir die kinders begin om 17:00 en beloof hope pret vir die jongspan.
Die kindertafel sal allerlei lekkernye en interessante goedjies hê vir kinders. Vanaf 17:00 sal ook allerhande lekker hap-en-trap-items, sosaties, boereworsrolle, ribburgers asook lekkernye soos basaarpoeding, pannekoek, tuisgemaakte lekkers, klein koekies, groot koeke, terte, pasteie, koeksisters, beskuit, brode en vele meer te koop wees.
Daar sal ook soos in die verlede weer 'n witolifante-tafel wees waar die versamelaar interessanthede teen billike pryse kan opraap.
As jy op soek is na 'n interessante oudheid mag jy dit dalk ook daar vind. Gebruikte tydlose boeke en tydskrifte, asook inmaakprodukte sal verkoop word.
"Kom koop ook heerlike vars vleis. Bobaas tuisgemaakte boerewors en ander vleis-snitte sal teen billike pryse beskikbaar wees." Heerlike aandetes – soos potjiekos – sal ook verkoop word.
"Ons nooi almal in die gemeenskap om 'n lekker basaar saam met ons lidmate te kom geniet. Bring jou vriende en familie saam en kom kuier lekker saam met ons, terwyl die kinders hulle behoorlik geniet saam met hulle maats."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'